Eko-minuut 13:30
BULLETIN 13 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Presidensiële Klimaatskommissie sê klimaatgeregtigheid kan in die nabye toekoms bereik word. Ryk lande is verantwoordelik vir 37-persent van die wêreld se huidige vrystellings, al woon net 15-persent van die wêreldbevolking in hierdie lande. Afrika is die tuiste van 17-persent van die wêreldbevolking, maar stel minder as vier-persent kweekhuisgasse vry. Die kommissie se uitvoerende direkteur, Dorah Modise, het aan die SABC gesê die wêreld se armste lande betaal die prys vir ‘n klimaatskrisis waartoe hulle die minste bydra:
Die Internasionale Instituut vir Omgewing en Ontwikkeling sê ook lande word gedwing om meer geld te leen om skuld te dek van ʼn klimaatskrisis waartoe hulle min bygedra het. Nuwe navorsing toon die wêreld se armste en kwesbaarste lande wat klimaatsverandering betref, bestee meer geld om skuld te delg as wat hulle ontvang om klimaatsverandering te bekamp. Klimaatverwante rampe het die afgelope twee dekades met 83-persent toegeneem. Die instituut se woordvoerder, Sejal Patel, sê arm lande se skuldlas maak dit moeilik om toenemende skade en onvoorspelbare weerstoestande te hanteer.
# En ten slotte: Die Penguin Palooza in die Stony Point-natuurreservaat in Bettysbaai in die Wes-Kaap vier Afrika-pikkewynbewaring en lok gesinne na markte, uitstallings en die vrylatings van pikkewyne. Afrika-pikkewyne is tans kritiek-bedreig, en CapeNature en die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls poog om die spesie te beskerm en plaaslike toerisme te bevorder. Petro van Rhyn van CapeNature sê die geleentheid moedig die beskerming van pikkewyne aan en dien ook as aansporing om mariene-ekostelsels in Suid-Afrika te beskerm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….