Goeie Nuus
BULLETIN 13 Oktober
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Penguin Palooza in die Stony Point-natuurreservaat in Bettysbaai in die Wes-Kaap vier Afrika-pikkewynbewaring en lok gesinne na markte, uitstallings en die vrylatings van pikkewyne. Afrika-pikkewyne is tans kritiek-bedreig, en CapeNature en die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls poog om die spesie te beskerm en plaaslike toerisme te bevorder. Petro van Rhyn van CapeNature sê die geleentheid moedig die beskerming van pikkewyne aan en dien ook as aansporing om mariene-ekostelsels in Suid-Afrika te beskerm:
# Twee studente-entrepeneurs van die Nelson Mandela-universiteit is onder die top 20 finaliste in die gesogte 2025 Absa Entrepreneurskap-ontwikkeling in Hoër Onderwys-vernuwings-uitdaging. Ayabulela Binase het die NanoLAMP-diagnostiese veld-stelletjie ontwikkel vir die vroeë opsporing van virale patogene wat boontjiegewasse in Suid-Afrika aantas. Jazmyn du Preez is die stigter van Fin Align, ‘n finansiële toepassing vir selfone wat spesifiek vir Suid-Afrikaners ontwerp is. Die nasionale eindronde vind op 25 November in Gauteng plaas.
# Leerders en onderwysers van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het uitsonderlik presteer en 14 toekennings gewen op die 2025 Nasionale Vaardigheidskompetisie. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê onderwysers en studente aan kolleges vir Tegniese en Beroeps-onderwys en -opleiding in al nege provinsies het hul tegniese en beroepsgerigte talente oor ‘n wye reeks dissiplines ten toon gestel. Hy sê deelnemers het meegeding in werklike, bedryfstoepaslike take:
# ‘n Groep toegewyde atlete maak reg om volgende Woensdag 700 kilometer van Greenfields in Ekurhuleni na Durban te stap om fondse in te samel vir die Pariio-gemeenskapsvaardigheidsentrum. Die sentrum sal weens die hoë werkloosheidsyfer praktiese opleiding vir vaardighede en werksgeleenthede vir jong mense in Suid-Afrika aanbied. Die sentrum sal begin met klasse vir bak en naaldwerk. Daar is tans meer as 60 atlete wat virtueel gaan saamstap as deel van die fondsinsamelingveldtog.
# En ten slotte: Disney se wetenskapsfiksie-prent Tron: Ares, met Jared Leto in die hoofrol, was met sy opening die gewildste op die Noord-Amerikaanse lokettrefferslys. Die rolprent, wat die derde aflewering in die Tron-trilogie is, volg die mensdom se eerste kontak met kunsmatige intelligensie wanneer ‘n gevorderde program die fisiese wêreld betree. Nog ‘n nuweling, Miramax en Paramount se romantiese misdaadkomedie Roofman, was tweede, met Leonardo DiCaprio se komiese aksie-epiese fliek, One Battle After Another, in die derde plek. Gabby’s Dollhouse: The Movie en The Conjuring: Last Rites was onderskeidelik vierde en vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….