Nuus 09:00
BULLETIN 11 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minstens 18 mense is vermoedelik dood na ‘n hewige ontploffing by ‘n Amerikaanse militêre plofstofaanleg in Tennessee
# OUTA sê Suid-Afrika benodig meer geregtigheid as hoëprofiel-klopjagte
# En, Eskom sê dieseluitgawes bly deurgaans onder begroting
# Minstens 18 mense word vermis en is vermoedelik dood nadat ‘n ontploffing Vrydag by ‘n ammunisiefabriek in die landelike gebiede van Tennessee die gebou vernietig het. Die ontploffing by Accurate Energetic Systems sowat 100 kilometer wes van Nashville, is kilometers ver gevoel. Dit het tot verskeie sterftes gelei, maar teen laat gisteraand moes amptenare nog die dodetal bepaal. Die polisiehoof in Humphreys, Chris Davis, het aan die media gesê die toneel was een van die mees verwoestendes ooit in sy loopbaan en dit sal tyd neem om die oorsaak te bepaal.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê Suid-Afrika benodig ‘n regstelsel wat meer kan bied as hoëprofiel-klopjagte. Die organisasie glo onlangse klopjagte teen die geskorste adjunk- nasionale polisiekommissaris vir Misdaadopsporing, Shadrack Sibiya, en president Cyril Ramaphosa se neef, die sakeman Hangwani Maumela, ontbloot korrupsie op verskeie magsvlakke, vanaf verkrygingstelsels tot wetstoepassing. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê geregtigheid moet verder strek as opskrifte en batebeslagleggings, ten einde openbare vertroue te herstel en verklikkers te beskerm:
# Die Universiteit van Fort Hare sê hy is hard besig met herstelwerk na die week se verwoestende brandstigting tydens studentebetogings. Die universiteit se Eiendoms- en Dienstebestuurder, Buhle Shandu, sê alhoewel die totale restourasiekoste op tussen 300-miljoen- en 500-miljoen-rand beraam word, strek die grootste deel van die vernietiging veel verder as infrastruktuur. Shandu sê benewens geboue, het jare se navorsing, institusionele kennis en onvervangbare herinneringe in vlamme opgegaan. Hy meen dit kan tot twee jaar duur om te herstel wat verlore is.
# Eskom sê hy het van 1 April tot 9 Oktober 5,9-miljard-rand aan diesel bestee en meer as ‘n duisend gigawatt-uur uit sy oopsiklus-gasturbine-aanlegte opgewek. Die Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dieselbesteding die afgelope week was 27,74-miljoen-rand teen ‘n lasfaktor van 0,758-persent. Sy sê dit is laer as dieselfde tydperk verlede jaar toe besteding 97,4-miljoen-rand was. Mokwena sê dit toon volgehoue verbetering in doeltreffendheid en dui op ‘n beduidende vermindering in afhanklikheid van dieselopwekking vanjaar:
# Die Amerikaanse president Donald Trump dreig die VSA sal ‘n bykomende 100-persent-tarief op Chinese invoere hef, en beskuldig die land van ‘n “buitengewoon aggressiewe standpunt” oor handel. In ‘n boodskap gister op sy Truth Social-platform sê die Amerikaanse president Beijing het ‘n uiters vyandige brief aan die wêreld gestuur en grootskaalse uitvoerbeheer ingestel op feitlik elke produk wat hulle vervaardig. Trump waarsku die bykomende tariewe sal op 1 November in werking tree en sê die VSA sal ook uitvoerbeheer op alle kritieke sagteware na China instel.
# En ten slotte sokker, die Italiaanse middelveldspeler, Bryan Cristante, hoop vir ‘n vol stadion wanneer sy land Dinsdag in Udine teen Israel speel in ‘n Wêreldbeker-kwalifiseerder, ondanks ‘n boikot wat vroeër ingestel is. Groot groepe betogers word in die stad verwag, maar Cristante sê hierdie week se wapenstilstandsooreenkoms tussen die strydende partye in Gaza kan dalk ‘n verskil maak. Vroeër die week was slegs vier-duisend van die beskikbare 25-duisend kaartjies verkoop. Noorweë is tans boaan die Europese kwalifiseringsgroep I, gevolg deur Italië en Israel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….