Nuus 08:00
BULLETIN 11 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minstens 18 mense is moontlik dood na ‘n hewige ontploffing by ‘n Amerikaanse militêre plofstofaanleg in Tennessee
# President Ramaphosa lewer die lofrede by Nathi Mthethwa se begrafnis
# En sokker: Bafana se Wêreldbeker-hoop vervaag ná ‘n doel-lose gelykopwedstryd teen Zimbabwe
# Minstens 18 mense word vermis en is vermoedelik dood nadat ‘n ontploffing Vrydag by ‘n ammunisiefabriek in die landelike gebiede van Tennessee die gebou vernietig het. Die ontploffing by Accurate Energetic Systems sowat 100 kilometer wes van Nashville, is kilometers ver gevoel. Dit het tot verskeie sterftes gelei, maar teen laat gisteraand moes amptenare nog die dodetal bepaal. Die polisiehoof in Humphreys, Chris Davis, het aan die media gesê die toneel was een van die mees verwoestendes ooit in sy loopbaan en dit sal tyd neem om die oorsaak te bepaal.
# President Cyril Ramaphosa sal Sondag die lofrede lewer ter ere van wyle ambassadeur Nathi Mthethwa in KwaMbonambi in KwaZulu-Natal. Die ontslape ambassadeur na Frankryk word vereer met ‘n Spesiale Amptelike Kategorie 2 Begrafnis. Hy was aan die hoof van Suid-Afrika se sending in Parys voordat hy verlede week op 58-jarige ouderdom in die Franse hoofstad dood is. ‘n Polisieondersoek na die oorsaak van sy dood is steeds aan die gang.
# Die inflasiesyfer in Namibië het in September tot 3,5-persent vanaf 3,2-persent in Augustus gestyg, hoofsaaklik as gevolg van stygende vervoerkoste. Die Namibië Statistieke Agentskap sê voertuigpryse het skerp gestyg en maande van algemene prysdalings in die sektor beëindig. Voedsel- en behuisingskoste het ook bygedra tot die druk. ‘n Ekonoom by FNB in Namibië, Helena Mboti, meen vervoerdinamika bepaal steeds inflasie-neigings, wat gelei het tot hersiene jaareindvoorspellings van 3,5-persent:
# Die Stad Kaapstad moedig motoriste aan om hulle voertuiglisensies vroegtydig te hernu om te verhoed om in lang toue te staan gedurende November en Desember. Die stad se burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Siseko Mbandezi, sê inwoners kan maklik aanlyn afsprake maak om tyd te bespaar. Hy het ook ‘n deurrylisensie-hernuwingsfasiliteit in Brackenfell bekendgestel, wat motoriste in staat stel om hul skyfies in minder as vyf minute te hernu:
# Sokker: Bafana Bafana se hoop vir die 2026 FIFA Wêreldbeker het ‘n knou gekry toe hulle gisteraand in hul voorlaaste kwalifiserende wedstryd in Durban teen Zimbabwe gelykop gespeel het. Die uitslag plaas Bafana tweede in Groep C met 15 punte – twee agter die voorloper Benin, wat ‘n oorwinning van 1-0 oor Rwanda behaal het in hulle kragmeting, ook gisteraand. Suid-Afrika het nou op die laaste dag ‘n wonderwerk nodig en moet hoop dat Nigerië Benin klop. Bafana se laaste Wêreldbeker-kwalifiseerder is Dinsdag teen Rwanda op die Bombela-stadion.
# En ten slotte, die Amerikaanse kletsrymer Travis Scott se konsert vanaand by die FNB-stadion in Johannesburg is een van Suid-Afrika se grootste internasionale musiekgebeurtenisse van die jaar. Die vertoning van halfnege tot ongeveer 11-uur, is deel van sy wêreldwye Circus Maximus-toer. Die Johannesburg Metropolitaanse Polisiedepartement sal van 11-uur vanoggend af paaie rondom die stadion sluit. Die department moedig mense aan om van die Parkeer-en-Ry-dienste gebruik te maak. Veilige, onderdakparkering met retoerpendeldienste sal vanuit belangrike inkopiebestemmings bedryf word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….