Nuus 17:00
BULLETIN 9 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie skiet ‘n verdagte dood wat met die moord op die IVP se adjunkhoofsweep verbind word
# Frankryk is die gasheer vir Arabiese en Europese lande oor hulp aan Palestyne nadat die Gaza-konflik geëindig het
# En sokker: Barcelona en Villareal pak mekaar in die eerste oorsese Europese ligawedstryd
# ‘n Verdagte wat gesoek word vir die moord op die adjunkhoofsweep van die IVP, Khethamabala Sithole, is vanoggend deur die polisie in Duduza, Ekurhuleni, doodgeskiet. Die polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê die polisie het Zamani Ximba by ‘n skuilplek opgespoor, waar hy ‘n voorwerp wat soos ‘n vuurwapen gelyk het, op hulle gerig het. Die polisie het losgebrand en later ontdek dit was ‘n nagemaakte wapen. Hy bevestig twee anders verdagtes sal op 20 November in die hof verskyn:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het beslag gelê op drie Lamborghini’s, ontwerpersmeubels en waardevolle kunswerke by die tenderpreneur Hangwani Maumela se drieverdieping-herehuis in Sandton, Johannesburg. Dis deel van ‘n bateherwinningsproses rondom 820-miljoen-rand se beweerde gekoördineerde sindikaatplundering by die Tembisa-hospitaal. President Cyril Ramaphosa se neef het na bewering voordeel getrek uit 41 ondernemings wat regeringstenders ontvang het. Bevele om verdere bates te bevries is reeds ingestel op sy eiendomme in KwaZulu-Natal en Kaapstad en al sy bankrekeninge. Amptenare sê die klopjag vorm deel van die voortgesette veldtog teen korrupsie in die openbare sektor.
Nuus uit die buiteland:
# Frankryk is vandag die gasheer vir ministers van Buitelandse Sake van Arabiese en Europese lande rakende gesprekke oor hulp aan die Palestyne sodra die konflik tussen Israel en Hamas in Gaza eindig. Die twee partye het vroeër ooreengekom oor ‘n wapenstilstand om die oorblywende lewende Israelse gyselaars vry te laat wat deur die Palestynse militantegroep aangehou word. Dit is ‘n belangrike stap in die rigting van die beëindiging van ‘n oorlog waarin duisende mense dood is en wat ‘n humanitêre ramp ontketen het.
# Sokker: Die twee Spaanse spanne, Barcelona en Villareal, gaan mekaar in Desember in Miami, Amerika, pak in die eerste Europese ligawedstryd wat oorsee gespeel word. Die Europese beheerliggaam, UEFA, het vroeër gesê hy is gekant teen oorsese wedstryde, maar sal dit in uitsonderlike omstandighede toelaat, soos die Italiaanse spanne AC Milan en Como se Serie A-wedstryd in Australië in Februarie. Die president van Spanje se La Liga, Javier Tebas, beskryf die wedstryd as ‘n geskiedkundige stap wat Spaanse sokker in ‘n nuwe dimensie plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 123-duisend-499-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-54-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-10-sent per vat.
# En laastens, die Hongaarse skrywer, László Krasznahorkai het 2025 se Nobelprys vir Letterkunde gewen. Die Koninklike Sweedse Akademie het sy visioenêre en boeiende werk geprys, wat die krag van kuns te midde van rampspoedige en uitdagende temas verken. Steve Sem-Sandberg van die Nobelkomitee sê Krasznahorkai, aangespoor deur sy reise na China en Japan, is bekend vir sy lang, verbeeldingryke stories met vreemde en uitsonderlike karakters:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….