Eko-minuut 13:30
BULLETIN 8 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# SANParke sê sy Nasionale Parkeweek was ‘n reuse-sukses, met 105-duisend-en-51 mense wat van 22 tot 28 September die land se nasionale parke besoek het. Die veldtog het aan Suid-Afrikaners die geleentheid gebied om ‘n gratis dagtoegang tot ‘n nasionale park van hul keuse te ontvang. SANParke sê die Mapungubwe Nasionale Park in Limpopo het ‘n toename van 52,3-persent besoekers ondervind, gevolg deur die Bergkwagga- en die Addo-park in die Oos-Kaap met ‘n toename van onderskeidelik 52- en 47,3-persent.
# Die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging sê die uitbreiding van windenergie lê nie net in tegnologie of die aptyt van beleggers nie, maar ook in die vermoë van die nasionale transmissienetwerk as die ruggraat van die land se kragstelsel. Privaatsektorbeleggings in hernubare energieprojekte in Suid-Afrika sal na verwagting teen 2030 132-miljard-rand bereik. Dié toename sal ses gigawatt sonkrag en 3,5 gigawatt windvermoë by die nasionale netwerk voeg. Die vereniging sê die Transmissie-ontwikkelingsplan is die werklike bemiddelaar van Suid-Afrika se hernubare energie-toekoms.
# En ten slotte: Die Marineland-seelewepark in die Niagara-waterval het gedreig om 30 beloegas uit te sit nadat die Kanadese regering geweier het om ‘n permit te gee om die diere na China te stuur. Die park is te koop en wil hê die 30 beloegas moet na die Chimelong-oseaankoninkryk in die Guangdong-provinsie gaan. Die park is van mening China is die enigste lewensvatbare keuse, aangesien hy nie meer kan bekostig om hul voeding of versorging te betaal nie. Beloegas leef wild in die Arktiese See en staan bekend as die see-kanarie weens hulle getjirp, klikgeluidjies, fluite en piepgeluide.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….