Goeie Nuus
BULLETIN 8 Oktober 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….
# SANParke sê sy Nasionale Parkeweek was ‘n reuse-sukses, met 105-duisend-en-51 mense wat van 22 tot 28 September die land se nasionale parke besoek het. Die veldtog het aan Suid-Afrikaners die geleentheid gebied om ‘n gratis dagtoegang tot ‘n nasionale park van hul keuse te ontvang. SANParke sê die Mapungubwe Nasionale Park in Limpopo het ‘n toename van 52,3-persent besoekers ondervind, gevolg deur die Bergkwagga- en die Addo-park in die Oos-Kaap met ‘n toename van onderskeidelik 52- en 47,3-persent.
# Durban gaan later die maand die heel eerste Ethekwini Shisanyama-fees aanbied. Die fees is ‘n lewendige viering van Suid-Afrikaanse kultuur, wat die stad se mees ikoniese braaivleis-ondernemings ten toon stel, terwyl outentieke kulinêre ervarings met energieke vermaak kombineer. Die optredes sluit in KwaZulu-Natal se sterbelaaide kunstenaars waaronder Goldmax, Asvante en DJ Muntu. Organiseerders sê die doel van die fees is om gemeenskappe te verenig, kulturele trots aan te moedig en ekonomiese geleenthede te bevorder deur plaaslike vennootskappe en projekte vir werkskepping.
# Die Stad Kaapstad se Direktoraat Gemeenskapsdienste en Gesondheid het 19 kunstenaars ondersteun wat hul werk tydens ‘n onlangse uitstalling by die SA Sendinggestig-museum in Langstraat ten toon gestel het. Die uitstalling is die eerste van drie wat voor die einde van die jaar sal plaasvind. Die burgemeesterskomiteelid vir die portefeulje, Francine Higham, sê die Opkomende Kunstenaarsprogram ondersteun kunstenaars deur vir hulle geleenthede te skep vir die ontwikkeling van hul vaardighede, die uitstalling van hulle werk en om ‘n inkomste te verdien:
# Die Wes-Kaapse Beweeglikheidsdepartement sê hy is verbind tot die bevordering van inklusiewe, veilige en toeganklike vervoerinfrastruktuur wat sal verseker dat alle inwoners vrylik, veilig en met selfvertroue kan reis, ongeag hulle vermoë. LUR Isaac Sileku het nuwe voetganger-veiligheidstekens by die Liga van Vriende van die Blindes in Grassypark ingewy. Sileku sê verbeterde beweeglikheid vir visueel-gestremdes kry voorkeur in die provinsie:
# En ten slotte: ‘n Nobelpryswenner het ‘n oproep van gelukwensing geïgnoreer omdat sy gedink het dit is ‘n vals oproep terwyl ‘n ander persoon tans op ‘n staptog is. Die wetenskaplikes Mary Brunkow, Fred Ramsdell en Shimon Sakaguchi het die Nobelprys vir Geneeskunde gewen vir die identifisering van regulatoriese T-selle, wat keer dat immuunselle ‘n persoon se eie liggaam aanval. Brunkow sê sy het ‘n oproep van die Nobelpryskomitee geïgnoreer omdat sy gedink het dit was ‘n bedrogspul. Ramsdell is op ‘n rugsakreis en weet nog nie van die prys nie.