Eko-minuut 13:30
BULLETIN 6 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Vyftien finaliste is aangekondig vir die vyfde Earthshot-toekennings. Die jaarlikse kompetisie, wat in 2020 deur prins William van Brittanje van stapel gestuur is, erken vernuwers wat oplossings uitdink vir die wêreld se dringendste omgewingsprobleme. Vanjaar se finaliste sluit in ‘n eerste mikroplastiekfilter en die grootste projekte vir herbebossing en oseaanbeskerming ooit. William sê die finaliste plaas die wêreld op ‘n nuwe roete om belangrike omgewingsdoelwitte te bereik:
# Sowat 350 stappers wat deur ‘n sneeustorm in Tibet aan die hange van Berg Everest gestrand gelaat is, is na veiligheid gelei. Dit volg nadat swaar sneeu die naweek oor die Himalajas uitgesak het. Amptenare sê sowat 200 stappers wat steeds naby die oostelike Kangshung-hang van Everest gestrand is, is in verbinding met redders en sal in groepe na die dorpie Qudang geneem word. Intussen is minstens 47 mense in die aangrensende Nepal sedert Vrydag dood nadat swaar reën grondstortings en oorstromings tot gevolg gehad het.
# En die Stad Kaapstad se Ontspannings- en Parkedepartement sê hulle verskerp hul pogings om strande veilig en verwelkomend te hou voor die besige somerseisoen. ‘n Strandskoonmaak-aksie is verlede week by Maiden’s Cove uitgevoer, ‘n kusoord tussen die blouvlagstrande van Clifton se Vierde Strand en Kampsbaai. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê Kaapstad se strande is van die mooiste ter wêreld en bied verskeie biologies-uiteenlopende habitatte:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….