Nuus 08:00
BULLETIN 5 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ronald Lamola vra vir sterker rol deur die VN se Algemene Vergadering
# Die Good-party verwelkom die hofuitspraak ten gunste van die apartheidslagoffers
# En rugby: Die Springbokke verower hul tweede agtereenvolgende Rugbykampioenskap-titel
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die VN se Algemene Vergadering se sentrale rol in globale bestuur moet versterk word om lidstate te bemagtig. Lamola het tydens die 22ste Vergadering van Nordies-Afrika-ministers van Buitelandse Sake by die Victoria-waterval in Zimbabwe, die behoefte aan die hervorming van die Veiligheidsraad in lyn met die Ezulwini-konsensus beklemtoon. Hy het ook gevra vir billiker globale finansiële stelsels om te verseker dat Afrika meer baat vind by befondsing vir ramp-veerkragtigheid:
# Die GOOD-party het die Pretoriase Hooggeregshof se besluit verwelkom om president Cyril Ramaphosa en die regering se poging af te wys om ‘n skadevergoedingsaak van 167-miljoen-rand deur apartheidslagoffers en die Stigting vir Menseregte, onbepaald uit te stel. Die party sê dit is belangrik vir die integriteit van Suid-Afrika se regstelsel dat die redes vir die vertagings in Waarheids- en Versoeningskommissie-sake aan die lig kom. GOOD het politieke inmenging veroordeel omdat dit ‘n kultuur van straffeloosheid bevorder en sê die uitspraak is ‘n kritieke stap in die rigting van verantwoordbaarheid.
Die UDM in Kaapstad is bekommerd oor die grootskaalse polisie-klopjagte wat uitgevoer word en verband hou met beweerde bedrog en korrupsie van 1,6-miljard-rand in munisipale kontrakte. Bongani Maqungwana van die UDM sê 26 eiendomme, insluitend amptenare se huise, is deursoek en toestelle is deur polisiebeamptes gekonfiskeer. Hy waarsku dat dié herhalende tendens en verbintenis met misdaadsindikate openbare vertroue ondermyn en vra vir die skorsing van die amptenare wat betrek word om vinnige regspleging te verseker:
# ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê die party se leierskap is mensgerig met ‘n bewese diensleweringsrekord. Beaumont het in Thembisa, Ekurhuleni, gesê die metro het ‘n verwaarloosde stad van Gauteng geword, geteister deur rioolstortings, vullishope en konstante krag- en wateronderbrekings. Hy het inwoners aangespoor om anders te stem en gesê ou politieke partye het munisipaliteite in die steek gelaat en dit is tyd om iets nuuts met ActionSA aan die leiding te probeer:
# Die families van die twee slagoffers van die aanval op die sinagoge in Manchester het hulde aan hulle gebring as helde. Adrian Daulby en Melvin Cravitz is Donderdag in die aanval by die Heaton Park-sinagoge in Crumpsall dood. Daulby is per ongeluk geskiet toe die polisie op die aanvaller Jihad al Shamie losgebrand het. Die polisie het nog ‘n man en twee vroue vir vermeende terreurmisdrywe in hegtenis geneem. Dit bring die getal verdagtes wat aangekeer is op ses te staan. Die polisie het ook onthul dat die aanvaller op borgtog was weens ‘n vermeende verkragting.
# En rugby: Met bykans ‘n herhaling van hul vorige kragmeting teen Argentinië, het die Bokke in die tweede helfte van hul laaste Rugbykampioenskap-wedstryd teruggeveg om Los Pumas met 29-27 te klop. Dit is die Bokke se tweede agtereenvolgende Rugbykampioenskap-titel. Die Argentyne het voor ‘n volgepakte Allianz-stadion in Londen eerste punte aangeteken en met rustyd met 13-10 voorgeloop. Die Bokke se punte het gekom van twee drieë deur skrumskakel Cobus Reinach, twee deur Malcolm Marx, en twee doelskoppe en drie strafskoppe deur Sacha Feinberg-Mngomezulu. Reinach is ook as Speler van die Wedstryd aangewys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….