Nuus 13:00
BULLETIN 4 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof verwerp president Ramaphosa se poging om ‘n skadevergoedingsaak te stop
# Generaal Mkhwanazi sal volgende week voor die Parlementêre Ad Hoc-komitee getuig
# En die ANC NUK vergader om sy verkiesingsriglyne te af te handel
# Die Hooggeregshof in Pretoria het president Cyril Ramaphosa se versoek om ‘n eis vir skadevergoeding van 167-miljoen-rand deur 22 families van vermoorde en vermiste anti-apartheidsaktiviste onbepaald uit te stel, met koste van die hand gewys. Regter Nicoline Janse van Nieuwenhuizen sê dit is in die openbare belang dat families afsluiting vind, en die regering was die enigste oorsaak van die dekades lange vertraging. Die Stigting vir Menseregte en die betrokke families het die uitspraak verwelkom en sê die regering het ‘n geskiedenis om nie die aanbevelings van kommissies te oorweeg nie.
# Die KwaZulu-Natal polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi sal volgende Dinsdag en Woensdag voor die Parlement se ad hoc-komitee verskyn om oor bewerings van kriminele infiltrasie in die regstelsel te getuig. Getuienis sal gelei word deur Senior Advokaat Norman Arendse, wat bevestig het dat Mkhwanazi se verklaring afgehandel is. Arendse het bevestig die span werk volstoom om te verseker dat die verklaring gereed is:
# Die ANC het van vandag tot Maandag ‘n spesiale vergadering van sy nasionale uitvoerende komitee belê by die Birchwood Hotel in Johannesburg. Die NUK sal oor die ekonomie, regering en dienslewering beraadslaag, en riglyne vir die komende plaaslike regeringsverkiesing finaliseer. Die ANC-sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê die party beoog om sy status te herbou deur gekwalifiseerde kandidate te kies en te fokus op sleutelkwessies van ekonomiese ontwikkeling:
# Die UDM het by internasionale oproepe aangesluit vir die onmiddellike vrylating van aktiviste van die Global Sumud-flottielje, insluitend die Suid-Afrikaners wat aangehou is terwyl hulle hulp aan Gaza afgelewer het. Die adjunkpresident van die UDM, Nqabayomzi Kwankwa, sê hul ontvoering ondermyn humanitêre beginsels en skend internasionale reg. Kwankwa het Israel se verset teen die uitsprake van die Internasionale Geregshof oor Rafah gekritiseer en gewaarsku dat vrede onmoontlik bly terwyl hulp geblokkeer word. Hy het sy steun vir ‘n Palestynse staat herbevestig en gevra vir inklusiewe dialoog, menswaardigheid en vreedsame naasbestaan in die streek:
# En ons sluit af met rugbynuus:
# Die Stormers het die Ospreys gister by die Kaapstad-stadion oortref en uitgestof, vir ‘n perfekte begin tot hul Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen. Die welkome 26-10 sege gee die Stormers twee oorwinnings in hul eerste twee wedstryde, met 9 uit ‘n moontlike 10 punte op die punteleer. Die Haaie en die Dragons het met 17-elk gelykop gespeel in hul VRK-botsing in Newport, Wallis. Die Bulle en Leinster sal mekaar vanmiddag om half-sewe op Loftus in Pretoria ontmoet, terwyl die Leeus na Italië gereis het vir hul kragmeting teen Zebre môremiddag.
En die Springbokkaptein, Siya Kolisi, verwag dat Argentinië vandag op Twickenham hard gaan terugveg tenspyte van verlede week se vernederende pakslae van 67-30. Die Springbokke hoop op ‘n tweede agtereenvolgende Rugbykampioenskapkroon. Die agtereenvolgende Wêreldbekerkampioene is met ’n enkele punt voor op die punteleer met die sesde en finale ronde van die suidelike-halfrond kampioenskap. Die Bokke begin die wedstryd, wat amptelik ‘n tuiswedstryd vir Argentinië is, as gunstelinge na hulle dominante vertoning verlede week in Durban. Die afskop is vanmiddag drie-uur, Suid-Afrikaanse tyd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….