Nuus 07:00
BULLETIN 4 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP doen ‘n beroep op die VN vir dringende strafmaatreëls teen Israel
# Trump stel ‘n ultimatum aan Hamas of ‘alle hel’ sal losbars
# En Tshwane reik ‘n verkeerswaarskuwing uit voor die Pretoria Gay Pride-optog
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het Israel beskuldig dat hy die volksmoord in Gaza erger maak deur die humanitêre Global Sumud-flottielje te blokkeer. Die SAKP sê Israel se onderskepping in internasionale waters het desperate burgerlikes van dringende hulp ontneem, terwyl aktiviste, insluitende Hoofman Zwelivelile Mandela en Greta Thunberg, aangehou is. Mbulelo Mandlana van die SAKP doen ‘n beroep op die Verenigde Nasies om dringend op te tree en vra vir die wêreldwye isolasie van Israel:
# Mining Affected Communities United in Action sê die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se ondersoek na kleinmynbou en die Stilfontein-krisis loop gevaar om die staat te beskerm eerder as om geregtigheid te laat geskied. Die organisasie het jare se vertragings, die ignorering van aanbevelings en die uitsluiting van slagoffers en reddingswerkers gekritiseer. Mpho Nkwana van die organisasie doen ‘n beroep op die kommissie om op aanspreeklikheid te fokus, sleutelstemme in die gemeenskap in te sluit en diegene wat verantwoordelik is vir die dood van 87 onwettige mynwerkers aanspreeklik te hou:
# Die Vryheidsfront Plus sê die MK-LP, Mzwanele Manyi, se voorgestelde grondwetlike wysiging oor grond lei slegs die aandag afleiding af van die werklike bedreiging, die voorgenome Wetsontwerp op Billike Toegang tot Grond. Manyi vra dat alle grond aan die regering moet behoort en vir grondeise om terug te dateer tot 1652. Wynand Boshoff van die VF Plus waarsku die wetsontwerp sal die regering die reg gee om grond sonder vergoeding te vat, en groot grondeienaars te teiken. Dit sal ook eiendomsreg, voedselsekerheid, en beleggings in gevaar stel.
# Die Amerikaanse president Donald Trump het ‘n ultimatum aan Hamas gestel om sy Gaza-vredesooreenkomds teen Sondag om middernag Suid-Afrikaanse tyd te aanvaar. Hy het op sy Truth Social-platform geskryf indien hierdie laaste kans-ooreenkoms nie bereik word nie, sal alle hel, soos nog nooit tevore gesien is nie, teen Hamas losbars. Trump het in sy plasing gesê “onskuldige Palestyne” moet ‘n ongespesifiseerde gebied ontruim in afwagting van ‘n moontlike aanval op Hamas se oorblywende magte.
# Krieket: Dhruv Jurel en Ravindra Jadeja het aanvallende honderdtalle geslaan om Indië in beheer te plaas met ‘n voorsprong van 286 in die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande. KL Rahul het die kolfvertoning gelei met ‘n 100-tal voor Jurel, wat 125 aangeteken het, en Jadeja het sake nog moeiliker vir die boulers gemaak in ‘n marathon-vennootskap van 206 op dag twee in Ahmedabad. Indië het 448 vir 5 teen uitskeityd aangeteken in reaksie op die Wes-Indiese Eilande se eerste beurt van 162. Jadeja was aan die einde van die dag se spel op 104 saam met mede-linkshandige Washington Sundar, op nege.
# En ten slotte: Die Stad Tshwane het motoriste gewaarsku oor strate in Pretoria wat geraak sal word tydens die Gay Pride-optog om LGBTQIA-regte te bevorder. Deelnemers sal 11:30 vanoggend by SuperSport Park in Centurion bymekaarkom en die roete via West-, Lenchen-, Jean-, Gerhard- en Von Willichlaan volg. Die optog maak 3-uur klaar en die Tshwane Metropolisie sal die verkeer monitor. Die strate wat geraak word sluit in West-, Lenchen-, Jean-, Gerhard-, Von Willich- en Shelanti-laan. Motoriste word aangeraai om Rabiestraat, Suidstraat, Hendrik Verwoerdrylaan, Gloverlaan, Cliftonlaan of Heuwelweg te gebruik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….