Nuus 18:00
BULLETIN 3 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi doen ‘n beroep op Mmamoloko Motau om sy onttrekking van die Madlanga-kommissie te verduidelik en nie die begroting te blameer nie
# Die DA onderneem om minister Tau se voorgestelde drie-persent SEB-heffing op ongenoteerde ondernemings teen te staan
# En, Indië en China hervat regstreekse vlugte vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi doen ‘n beroep op die voormalige hoofgetuienisleier by die Madlanga-kommissie, Terry Motau, om redes te verskaf vir sy bedanking. Kubayi het bewerings ontken dat die kommissiebegroting van 147-miljoen-rand Motau se besluit beïnvloed het, en benadruk die finansies word behoorlik bestuur. Die minister het aan SABC News haar verbintenis tot deursigtigheid en aanspreeklikheid herbevestig, en ‘n beroep op Motau gedoen om die land in sy vertroue te neem:
# Die DA sê hy sal die drie-persent Swartbemagtigingheffing op ongenoteerde besighede wat die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, voorstel, teenstaan. Die party waarsku die heffing sal ‘n las op ondernemings wees, klein besighede benadeel en werkskepping lam lê. Toby Chance van die DA vra vir werklike bemagtiging deur werkskepping en entrepreneurskap, eerder as om ondernemings te dwing om miljarde in staatsbeheerde fondse te stort:
# Die regering het informele groepe uitgenooi om aan die G20 Maatskaplike Spitsberaad deel te neem. Die regering het registrasies vir die spitsberaad geopen, wat vir 18–20 November 2025 in Johannesburg geskeduleer is. Suid-Afrika se G20-presidentskapstema is Solidariteit, Gelykheid, Volhoubaarheid, en die spitsberaad sal die burgerlike samelewing, jeug, vrouegroepe, persone met gestremdhede, geloofsorganisasies en grondvlaknetwerke betrek om wêreldkwessies wat die daaglikse lewe beïnvloed, te bespreek. Gemeenskappe word aangemoedig om te registreer en aan die geskiedkundige gebeurtenis deel te neem.
# Indië en China gaan regstreekse vlugte hervat ná ‘n vyf-jaar-lange opskorting. Vlugte tussen die twee lande met die grootste bevolkingsgetalle ter wêreld is tydens die Covid-19-pandemie in 2020 opgeskort en namate spanning tussen Beijing en Nieu-Delhi oor grensgeskille toegeneem het, is die vlugte nie hervat nie. Betrekkinge tussen die Asiatiese mededingers het sedertdien verbeter, en hul leiers het in Augustus in China, en ook verlede jaar in Kazan in Rusland, gesprekke gevoer.
# Sokker: Jude Bellingham is ‘n noemenswaardige weglating uit Thomas Tuchel se Engeland-groep vir dié maand se wedstryde teen Wallis en Letland. Die Euro-2024-naaswenner speel Donderdag ‘n vriendskaplike wedstryd teen Wallis en vyf dae later ‘n Wêreldbeker-kwalifiseerder-wegwedstryd teen Letland. Bellingham het ‘n kamp in September misgeloop toe hy ‘n skoueroperasie ondergaan het maar het sederdien vier wedstryde vir Real Madrid gespeel. Tuchel het egter nie die 22-jarige in sy 24-man groep ingesluit nie, slegs twee dae nadat hy as Engeland se 2024/25 manspeler van die jaar aangekondig is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-352-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-882-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….