Eko-minuut 13:30
BULLETIN 3 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut is sterk gekant teen Eskom se aansoek dat die leeftyd van Eenheid 2 van die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad verleng word. Eskom het by die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie aansoek gedoen dat Eenheid 2 se bedryfslisensie, soos dié van Eenheid 1, met 20 jaar verleng word. Die instituut se woordvoerder, Francesca de Gasparis, sê terwyl klimaatskokke toeneem, is die gevare wat met kernaanlegte verbind word nog groter:
# Die C40-stede sê bewerings dat die steenkoolgebruik van Suid-Afrika se elektrisiteitsnetwerk die aanvaarding van elektriese voertuie voortydig maak, is misleidend. C40 is ‘n globale netwerk van burgemeesters van die voorste wêreldstede wat saamwerk teen die klimaatkrisis. C40-stede se programbestuurder vir Afrika, Prian Reddy, sê meganismes soos energie-oordrag en die groei van hernubare kapasiteit sal vlootoperateurs mettertyd toegang tot skoon elektrisiteit bied. Hy sê die instel van elektriese mobiliteit en ontkoling van die netwerk moet saam gebeur.
# En, die VryheidsFront Plus sê die volgehoue grootskaalse storting van bourommel en afval in die Blue Sky informele woongebied in Boksburg kan nie toegelaat word nie. Sowat 30 vragte bourommel en afval word daagliks in die gebied gestort en oortreders word nie vervolg nie. Denise Janse van Rensburg van die party sê dit hou ernstige gesondheids- en omgewingsgevare vir inwoners in die gebied in en die Ekurhuleni-munisipaliteit se mislukte pogings om afval te beheer en bestuur af te dwing, is onaanvaarbaar:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….