Nuus 06:00
BULLETIN 3 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC sal nie met Brown Mogotsi assosieer nie
# Die polisie sê die aanval op die sinagoge in Manchester is ‘n terroriste-aanval
# En krieket: Die Proteas begin vandag hul Wêreldbeker-veldtog teen Engeland
# ANC-lede wat genoem word in die Madlanga-kommissie van ondersoek na politieke inmenging in die regstelsel, sal voor die party se integriteitskomitee verskyn. Hulle sluit in die nasionale uitvoerende komiteelid en die minister van Polisie, Senzo Mchunu, wat betrek word by bewerings van inmenging in die polisie. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het die media ook oor die uitkomste van die nasionale werkkomiteevergadering ingelig. Hy het die sakeman Brown Mogotsi gekritiseer en sê hy verpersoonlik ‘n slegte ANC-lid:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het nuwe rekeningkundige beheer oor al 21 Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerhede aangestel. Die aanstellings volg op ‘n hoëprofiel-polemiek vroeër vanjaar waartydens die voormalige minister Nobuhle Nkabane ‘n lys SETA-raadsvoorsitters met politieke bande onttrek het, na openbare en parlementêre kritiek. Manamela sê hierdie aanstellings dui op ‘n nuwe bestuur wat bedoel is om institusionele integriteit te herstel en vaardigheidsontwikkeling in lyn te bring met nasionale ekonomiese prioriteite.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, het die Hooggeregshof in Pretoria genader om veranderinge aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aan te vra. Die organisasie sê die huidige wet het toegelaat dat mislukte leiers by instellings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, aanspreeklikheid vrygespring het. Stefanie Fick van OUTA sê hierdie skuiwergat beskerm uitvoerende amptenare wat openbare fondse misbruik en laat hulle toe om na ander regeringsposte aan te beweeg sonder enige gevolge:
# Die vakbond NEHAWU hou vandag ‘n Provinsiale Dag van Aksie wat op die Departement van Gesondheid gerig is. Lede gaan ‘n memorandum van eise aan die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko oorhandig, te midde van uitdagings oor onder meer korrupsie, wanadministrasie, vervalle infrastruktuur, vakante poste, kommer oor Beroepsgesondheid en -veiligheid, en vakbond-teistering. NEHAWU sê die Spesiale Ondersoekeenheid se verslag oor die Tembisa-hospitaal beklemtoon kroniese mislukkings, en belowe om die stryd vir gehalte-gesondheidsorg voort te sit.
# Die polisie sê die dodelike aanval op ‘n sinagoge in Manchester, Engeland, is as ‘n terroriste-voorval verklaar. Twee mense is gister dood en nog vier gewond toe ‘n man met ‘n motor tussen voetgangers buite die Heaton Park Hebreeuse Gemeente-sinagoge ingery en mense met ‘n mes aangeval het. Die aanval het op Yom Kippur, die heiligste dag op die Joodse kalender, plaasgevind. Die polisiehoof van Groter Manchester, Stephen Watson, sê die aanvaller is deur gewapende magte op die toneel doodgeskiet:
# Krieket: Die Vroue-Proteas begin vandag in Guwahati hul 50-boulbeurt Wêreldbeker-veldtog teen die viermalige kampioene, Engeland. Engeland is tans derde op die wêreldranglys vir die Eendagkompetisie na die verdedigende kampioene Australië en mede-gasvroue, Indië. Suid-Afrika is vyfde op die ranglys na Nieu-Seeland. Die Proteas het die halfeindrondes in die laaste twee toernooie bereik en ook die eindwedstryd van die vorige twee T20 Wêreldbekers gehaal. Kaptein Laura Wolvaardt wil hê haar spelers moet hierdie keer die beker verower, en sê die span is vol selfvertroue.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-607-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-858-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….