Goeie Nuus
BULLETIN 1 Oktober 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# St Joseph’s tussenmediêre pediatriese sorg sê hy is al nege dekades lank ‘n baken van hoop vir duisende kinders wat mediese oorgangsorg nodig het. Die organisasie bied gratis mediese en terapeutiese oorgangsorg aan kinders met chroniese siektes en gestremdhede. Die vierings van die mylpaal het die afgelope maande ʼn tuinparty vir pasiënte en personeel ingesluit, asook ʼn dankseggingsdiens saam met skenkers en vennote.
# The Green Connection se Koeksister-projek bied vandag ʼn gemeenskaps-markdag aan in Langebaan in die Wes-Kaap. Die geleentheid bied aan plaaslike entrepreneurs ʼn platform om hul produkte uit te stal, kennis te deel en gemeenskapsveerkragtigheid te vier. The Green Connection se woordvoerder, Liz McDaid, sê hoogtepunte sluit in markwinkeltjies, interaktiewe leerstasies, kultuur-bedrywighede en die rolprent SPOILED, wat handel oor kusgemeenskappe wat Suid-Afrika se see-ekostelsels beskerm:
# Die Nelson Mandela-universiteit sê hulle Isisusa Jazz Fest-konsert 2025 was ‘n veeltalige viering van musiek en erfenis. Meer as 140 kunstenaars was op die verhoog by die Veremarksentrum in ‘n program wat die land se uiteenlopende stemme weerspieël het. Vanjaar se tema, Mqhayi Meets Mandela, was ‘n verkenning van die wyse waarop die isiXhosa-digter S.E.K. Mqhayi gehelp het om Nelson Mandela se sin van doelgerigtheid deur taal en uitvoering te vorm. Daar was uitstekende optredes deur onder andere die mans-vokale kwartet, The Creed, die Jazz-kwartet Moment’s Notice en die Nelson Mandela-universiteitskoor.
# Meer as 200 mense het aan SANParke se jaarlikse Kankerbewustheidstaptog in die Wildernis-gedeelte van die Tuinroete Nasionale Park deelgeneem. Die staptog het oorlewendes vereer, ondersteuning gegee aan diegene wat tans deur kanker geraak word, en bewustheid verhoog oor die belangrikheid van voorkoming, vroeë opsporing en behandeling. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê die roete oor ses-kilometer simboliseer veerkragtigheid en kollektiewe krag:
# En ten slotte: Hisense SA sê hy glo daaraan om die volgende geslag te bemagtig, of dit deur moderne tegnologie of ondersteuning aan jong Suid-Afrikaners is. Die maatskappy het ʼn borgskap van 240-duisend-rand toegeken wat die Real Madrid-stigting se talentvolste Suid-Afrikaanse sokkerspeler se onderrig oor die volgende vyf jaar sal betaal. Jevron Epstein van die stigting sê die borgskap sal ʼn 12-jarige belowende ster ondersteun om sy droom te verwesenlik om by die Europese Ligas in te kom:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….