Nuus 15:00
BULLETIN 30 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dumisani Khumalo sê Brown Mogotsi het Vusimuzi Matlala aangespoor om ANC-lidmaatskap te befonds om kiesersteun te verseker
# Sokker: Spelers is bekommerd oor die gevaar van uiterste hitte tydens volgende jaar se Wêreldbekertoernooi
# En die FAK vereer Leon Schuster vir sy lewenslange bydrae
# Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, sê WhatsApp-boodskappe onthul die sakeman Brown Mogotsi het druk geplaas op die omstrede Vusimuzi “Cat” Matlala vir befondsing om ANC-lidmaatskap in twee streke te dek. Die boodskappe is aan die Madlanga-kommissie in Pretoria voorgelê en toon Mogotsi het Matlala gewaarsku versuim om te betaal kan kiesers vervreem. Volgens Khumalo dui die boodskappe aan dat finansiële bydraes gebruik is om politieke uitkomste te beïnvloed, terwyl Matlala se onderneming en beweerde bande met ‘n kartel ondersoek word:
# ActionSA in Gauteng dring aan dat die Patriotic Alliance die volledige bevindinge van sy ondersoek na sy adjunkpresident, Kenny Kunene, moet bekend maak. Kunene het in Julie as Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir Vervoer bedank nadat hy gedurende ‘n polisieklopjag by die huis van die moordbeskuldigde Katiso ‘KT’ Molefe gevind is. Kunene is later deur ‘n eksterne regsfirma van enige ongerymdhede vrygespreek. Die streeksekretaris van ActionSA in Johannesburg, Lebo Mokoka, bevraagteken die geloofwaardigheid van die ondersoek en vra deursigtigheid en leiers onaangeraak deur misdadige verwantskappe.
# Die Progressive Forces of South Africa het die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, en die Gautengse kommissaris, Tommy Mthombeni, versoek om ondersoek in te stel na die dood van die voormalige Zambiese president Edgar Lungu op Suid-Afrikaanse bodem. Die Nasionale Strategiese Organiseerder, Bonang Letsokoane, noem familie- en politieke kommer oor moontlike vergiftiging. Sy waarsku ‘n vertraging of gebrek aan optrede kan die integriteit van Suid-Afrika se regstelsel benadeel en beklemtoon die land se wettige plig om verdagte sterftes te ondersoek:
# Sokker: Die internasionale spelersvakbond FIFPro waarsku oor die gevare om in uiterste hitte te speel tydens volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Amerika, Mexiko en Kanada. Die toernooi volg op die Klubwêreldbekertoernooi wat vanjaar in Junie en Julie in Amerika plaasgevind het. Baie van die wedstryde is in die middae gespeel toe temperature dikwels ver bo 30 grade Celsius gestyg het. Alexander Bielefeld van FIFPro noem die toernooi ‘n wekroep ten opsigte van ‘n warmer planeet.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-859-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-808-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: Drie dekades nadat “Hie’ kommie Bokke!” in 1995 tydens die Springbokke se geskiedkundige Wêreldbeker-oorwinning oor die All Blacks op Ellispark opgeklink het, het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge ’n eretoekenning aan Leon Schuster oorhandig vir sy lewensbydrae tot Afrikaanse musiek, rolprente en radiowerk. Hy ondervind tans gesondheidsuitdagings en die FAK het hom by sy huis in Johannesburg besoek om die eerbewys persoonlik te oorhandig. Die FAK het sy waardering uitgespreek vir Schuster se volgehoue werk om die Afrikaanse taal en kultuur op ’n toeganklike en vreugdevolle manier te bevorder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….