Nuus 14:00
BULLETIN 30 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Matlala se gesprekke dui op tenderbeskerming en ontbinding van die taakspan oor politieke moorde
# Die regering se tweede kabinets-lekgotla skop in Pretoria af
# En krieket: Indië kolf eerste in die openingswedstryd van die Wêreldbekertoernooi vir vroue
# Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, sê WhatsApp-boodskappe waarby die vermeende kartelbaas, Vusimuzi “Cat” Matlala betrokke is, dui op pogings om tenders te beskerm en die ontbinding van die taakspan oor politieke moorde te bevorder. Khumalo het voor die Madlanga-kommissie in Pretoria getuig dat die boodskappe tussen Matlala en die sakeman Brown Mogotsi ook bande met polisiebeamptes, moontlike betalings aan politici en toegang tot ‘n kabinetslid uitwys. Hy sê die boodskappe dui aan hoe misdaadnetwerke probeer het om ondersoeke te beïnvloed:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n regsoorwinning behaal met die Hooggeregshof in Johannesburg se beslissing dat drie voormalige SABC-uitvoerende hoofde meer as 11-miljoen-rand moet terugbetaal wat as suksesbonusse aan die bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, uitbetaal is. Mbulaheni Maguvhe, Ndivhoniswani Tshidzumba en Maleshane Raphela is gesamentlik aanspreeklik bevind omdat hulle nie die betalings teengestaan het nie. Die SOE het reeds ‘n gedeelte van Motsoeneng se pensioen in beslag geneem en sal nou die uitstaande balans herwin, met rente en regskostes wat bygetel word.
# Die regering van nasionale eenheid se tweede kabinets-lekgotla van vanjaar begin vandag in Pretoria. Ministers, adjunkte, premiers en leiers van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging sal die tweedaagse byeenkoms bywoon. Besprekings gaan fokus op dienslewering, ekonomiese groei, bestuur en die gereedheid om die G20-beraad aan te bied. Die uitkomste sal bydra tot die vorming van die regering se beleid, wetgewende agendas en die mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring in November.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê al is die huidige handelsprobleme tussen Suid-Afrika en Amerika op nasionale vlak ‘n onlangse verwikkeling, is die verhouding met dié land op ʼn staat tot provinsiale vlak steeds sterk. Hy was pas in Amerika op ʼn amptelike besoek van tien dae. Amerika is die Wes-Kaap se tweede grootste uitvoermark met uitvoere van 18,32-miljard-rand verlede jaar, wat ʼn styging van 2,66-persent teenoor 2023 was. Winde sê handelsbetrekkinge met Amerika is uiters belangrik:
# Krieket: Indië kolf eerste nadat die medegasvrou, Sri Lanka, se kaptein, Chamari Athapaththu, die loot gewen het in die openingswedstryd van die eendag-Wêreldbekertoernooi vir vroue in Guwahati, Indië. Suid-Afrika is een van die agt spanne wat deelneem, met al die spanne wat eenkeer teen mekaar speel terwyl die boonste vier na die halfeindronde deurdring. Die verdedigende kampioen, Australië, het die toernooi oorheers sedert sy instelling in 1973 en sewe van die twaalf gewen, gevolg deur Engeland met vier titels en Nieu-Seeland wat in 2000 gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-873-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-804-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….