Goeie Nuus
BULLETIN 30 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Imran Hamdulay se debuutrolprent, The Heart is a Muscle, is gekies as Suid-Afrika se amptelike inskrywing in die kategorie Beste Internasionale Speelfilm vir die 98ste Oscar-toekenningsaand. Die prent ondersoek die bande tussen pa’s en seuns en put uit ervarings spesifiek uit die Kaapse Vlakte. Die rolverdeling sluit in Keenan Arrison, Melissa de Vries en Loren Loubser. Die rolprent se première was vanjaar in die Panorama-afdeling van Berlyn en het die Ekumeniese Jurieprys gewen. Die Oscars vind op 15 Maart volgende jaar plaas.
# Die Suid-Afrikaanse Emmy-bekroonde tekenprent-kunstenaar Lesego Vorster inspireer ’n nuwe era van storievertellers. Hy het die Hidden Hand Studios gestig en met die ondersteuning van die Nasionale Video- en Rolprentstigting en die Franse Instituut van Suid-Afrika ‘n Emmy verower vir Karakterontwerp vir die Kizazi Moto-episode van You Give Me Heart. Hy gee nou opleiding by Tshimologong en help studente om wêreldwye tekenprent-geleenthede te benut terwyl oorspronklike Afrika-estetika globaal tentoongestel word.
# Die 2025 Siyabakhumbula-toekennings word nadoods toegeken aan ‘n merkwaardige groep gevierde Suid-Afrikaners wat die land se kulturele, sport en sosiale landskap verander het. Die digter en skrywer Don Mattera, die viermalige wêreld-bokskampioen Jacob “Baby Jake” Matlala, die jazz-sangeres Gloria Bosman en die rolprentvervaardiger Junald Ahmed is onder dié wat vanjaar vereer word. Vanjaar se toekennings wat die 15de keer aangebied word, vereer mense wat reeds dood is maar in hul leeftyd buitengewone bydraes gelewer het, asook dié wat steeds ʼn betekenisvolle bydrae lewer. Die toekenningsgeleentheid vind Saterdag in die Gold Rush Dome in Johannesburg plaas.
# Die Cape Cultural Collective ondersteun deur Kunstekaap, bied sy eerste Sunset Poetry and Jazz Sessions-reeks aan, Where Words Meet the Groove. Die geleentheid sluit 90 minute se onvergeetlike optredes in, onder andere dié deur die sielvolle sangers Thami Baba, Babalwa Mentjies en Mel Voegt, en die woordkunstenaars Eugenia Zantoto, Winslow Schalkwyk en Zizipho Bam. Die Mamela-orkes sal ook optree. Die geleentheid word vanaand in die Kunstekaap se Innovation Lounge in Kaapstad gehou.
# En Uber Suid-Afrika het vroue-bestuurders bekendgestel, wat vroue toelaat om ‘n vroulike bestuurder te kies en voorkeur te gee aan hulle veiligheid en bemagtiging. Die diens het op grond van wêreldwye insigte en plaaslike toetse keuses vir vroue uitgebrei en nuwe werksgeleenthede vir vrouebestuurders geskep. Die hoofbestuurder van Uber in Afrika suid van die Sahara, Deepesh Thomas, sê die projek is geïntegreer met Uber se veiligheidskenmerke en gee selfvertroue, beheer en inklusiwiteit vir vroue ‘n hupstoot.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….