Nuus 14:00
BULLETIN 29 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie sindikate word gekoppel aan bedrog van twee-mijard-rand by die Tembisa-hospitaal
# Thabo Mbeki verwelkom die onthullings voor die Madlanga-kommissie
# En Eskom bevestig Kusile se eenheid-6 is in bedryf gestel
# Die Spesiale Ondersoekeenheid sê meer as twee-miljard-rand wat begroot is vir die Tembisa-hospitaal in Ekurhuleni, Gauteng, is gesteel deur drie misdaad-sindikate onder leiding van Hangwani Maumela en Vusi “Cat” Matlala; Rudolf Mazibuko; en Sindikaat X. Minstens 15 amptenare is betrokke, en luukse eiendomme en voertuie wat aan die sindikate gekoppel is, word opgespoor om herwin te word. Die hoof van die eenheid, Andy Mothibi, het aan die media gesê 116 dissiplinêre sake en vier korrupsiesake is na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys:
# Oudpresident Thabo Mbeki verwelkom die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se moed om korrupsie binne die strafregstelsel aan die kaak te stel. Die Madlanga-kommissie stel tans ondersoek in na Mkhwanazi se bewerings oor politieke inmenging in die strafregstelsel. Mbeki het in Durban aan SABC News gesê die ANC is geïnfiltreer deur persone op soek na mag vir persoonlike gewin, en die kommissie bied nou ‘n kans om die verrotting te ontbloot:
# Eskom het bevestig eenheid 6 van die Kusile-kragstasie in Mpumalanga is amptelik in bedryf gestel, wat die suksesvolle voltooiing van Eskom se bouprogram aandui. Woordvoerder Daphne Mokwena sê hierdie mylpaal is ‘n noodsaaklike deel van die opwekkings-herstelplan en beeïndig bouwerk aan Suid-Afrika se twee uiters belangrike steenkoolkragstasies, Kusile, en Medupi in Limpopo. Sy sê met eenheid 6 wat nou aanlyn is, kan Kusile en Medupi gesamentlik nege-duisend-600-megawatt teen volle vermoë lewer:
# Sokker: Die Amajita van Suid-Afrika begin hulle FIFA onder-20 Wêreldbekerveldtog in Chili vandag op die Estadio El Teniente met ‘n Groep E-wedstryd teen Frankryk. Dit is die eerste keer dat die span die toernooi as Afrika-kampioen begin. Die afrigter, Raymond Mdaka, sê sy span is vasberade om hulle beste te lewer ondanks beperkte tyd vir voorbereiding. Amajita, wat die vyfde keer in die Wêreldbekertoernooi speel, speel ook teen Amerika en die nuweling Nieu-Kaledonië. Hulle beste vertoning was in 2009 toe hulle die ronde van 16 bereik het. Afskop is om 10-uur vanaand.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-100-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-816-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-20-sent per vat.
# En laastens, die driemalige Grammy-wenner Bad Bunny gaan in Februarie optree tydens die Super Bowl se 60ste rustyd-vertoning op die Levi-stadion in Santa Clara. Dit is die eerste keer dat die kletsrymer van Puerto Rico die Super Bowl-verhoog betree. Bad Bunny sê dit gaan nie oor homself nie, maar oor sy land se mense, kultuur en geskiedenis. Hy sluit aan by ‘n gevierde lys kunstenaars wat die geleentheid gekry het om by die NFL se grootste geleentheid op te tree, insluitend Michael Jackson, Beyoncé, Madonna en Bruce Springsteen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….