Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons slaan af met gholf: Span Europa het Span Amerika se terugvegpoging weerstaan vir ‘n tweede agtereenvolgende Ryderbeker-titel met ‘n oorwinning van 15-13 op Bethpage Black in New York. Shane Lowry het ‘n voëltjie op die laaste putjie aangeteken om Russell Henley te klop en te verseker dat Europa die trofee behou. Tyrrell Hatton se gelykopuitslag met Collin Morikawa het aan Luke Donald se span die eerste oorwinning op Amerikaanse bodem sedert 2012 besorg. Donald is baie trots op sy span se veggees:
Die vyfmalige major-kampioen Rory McIlroy het intussen die skare gekritiseer vir onaanvaarbare en beledigende gedrag tydens die kompetisie. ‘n Raserige skare het voortdurend persoonlike beledigings teenoor die Europese spelers geslinger terwyl bier op McIlroy se vrou, Erica, uitgegooi is. Hy sê dié gedrag moet nooit in die sport aanvaar word nie:
# Rugby: Nieu-Seeland sal sonder Beauden Barrett en Ethan de Groot moet klaarkom in Saterdag se laaste Rugbykampioenskapswedstryd teen Australië in Perth. Barrett het ‘n skouerbesering opgedoen in die eerste helfte van die afgelope naweek se toets op Edenpark in Auckland wat hulle 33-24 gewen het om die Bledisloe-beker te behou. De Groot kon nie ‘n kopbeseringstoets slaag nie. Barrett word vervang deur Damian McKenzie. Dit is nog nie seker wie De Groot sal vervang nie, maar dit sal waarskynlik Tamaiti Williams wees.
# Krieket: Suid-Afrika het Pakistan in Colombo met vier paaltjies geklop in hulle laaste voorbereidings-wedstryd vir die komende Vroue-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka. Pakistan het eerste gekolf en is binne 46 boulbeurte uitgeboul vir 229 nadat Ayabonga Khaka en Masabata Klaas elk twee paaltjies platgetrek het. Suné Luus en Anneke Bosch het vyftigtalle behaal en ʼn vennootskap van 100-lopies om die vierde paaltjie aangeteken. Die Protea-vroue het die sege beklink met byna tien boulbeurte oor. Suid-Afrika begin hulle Wêreldbeker-veldtog Saterdag teen Engeland.
# En motorsport: Die Spaanse Ducati-renjaer Marc Márquez het sy sewende MotoGP-wêreldkampioenskap by die Japannese Grand Prix verseker, sy eerste sedert 2019. Die 32-jarige het in Motegi tweede geëindig na sy spanmaat, Francesco Bagnaia, om die titel te beklink. Honda se renjaer, Joan Mir, was derde en Brad Binder van Suid-Afrika 12de. Márquez het hierdie seisoen elf oorwinnings behaal en sy kampioenskapsvoorsprong bo sy broer, Álex, tot 201 punte gerek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….