Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu lei ‘n spitsberaad van waterdienste-owerhede oor druppelverslae
# Sekunjalo Investment Holdings gaan Ramaphosa en ander staatsliggame dagvaar vir 75-miljard-rand
# En, sokker: Bafana speel vanaand teen Mali in sy eerste Afcon-wedstryd
# Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu sal ‘n twee-daagse spitsberaad vir Waterdienste-owerhede lei na aanleiding van die Blou– en Geen-Druppel-verslae en die Groendruppel-vorderingbeoordelings-verslag. Donderdag en Vrydag se byeenkoms by Emperors Palace in Gauteng, bring verteenwoordigers byeen van 144 waterdienste-owerhede, om afnemende watergehalte en toenemende nie-inkomstewater te bespreek. Die woordvoerder van die departement, Wisane Mavasa, sê aksieplanne sal opgestel word vir munisipaliteite met wisselende prestasievlakke, samewerking en deursigtigheid, wat regstellingsmaatreëls insluit vir tekortkominge:
# Sekunjalo Investment Holdings het kennis gegee van sy voorneme om president Cyril Ramaphosa, die Presidensie, die minister van Finansies, die Nasionale Tesourie, die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste en die staatsprokureur te dagvaar. Hy sê die hofsake spruit uit ‘n lang tydperk van sabotasie. Hy beweer elemente in die Suid-Afrikaanse staat was korrup en is gebruik om Sekunjalo se uitvoerende voorsitter, Iqbal Survé en maatskappye wat met die groep verbind word, doelbewus te ondermyn en te benadeel. Sekunjalo eis skadevergoeding van 75-miljard-rand.
# Human Rights Watch se jaarlikse wêreldverslag kritiseer regerings wat selektief konflikte veroordeel wat menseregte raak. Die organisasie se direkteur vir die Horing van Afrika, Laetitia Bader, sê die verslag werp lig op konflikte, onderdrukkende leierskap en internasionale nalatigheid. Sy het op Newzroom Afrika meer besonderhede verskaf oor groot konflikte in die streek, insluitend Israel en Gaza, Oekraïne, Mianmar, Ethiopië en Soedan, waar duisende lewens verloor of geraak is. Die verslag laat ook die soeklig val op ernstige beperkings op vroue en kinders in Afghanistan, wat Bader sê hulle verhinder om ʼn opvoeding te kry en aan ʼn reeks bedrywighede deel te neem:
# Sokker: Suid-Afrika speel vandag sy eerste groepswedstryd in die Afrikabeker-toernooi wanneer die span om tien-uur vanaand teen Mali in die Ivoorkus speel. Die buurland, Namibië speel vroeër teen Tunisië met die afskop om sewe-uur. Die eerste wedstryd van die dag is om vier-uur wanneer Burkina Faso en Mauritanië kragte meet. Bafana Bafana se ander groepwedstryde is Saterdag teen Namibië en volgende Woensdag teen Tunisië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-739-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-48-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-10-sent per vat.
# Ten slotte: Die projek 67 Komberse vir Nelson Mandela-dag gaan op 27 Januarie sy tiende bestaansjaar vier met feesvieringe by The Farmhouse by Steyn City in Midrand, Gauteng. Carolyn Steyn het die idee begin as ‘n uitdaging ter ere van die ontslape president Nelson Mandela, maar dit het tot ‘n projek ontwikkel waarmee komberse aan honderd-duisende behoeftige mense voorsien word. Steyn sê dit het ontwikkel tot wat sommige mense as ‘n beweging beskryf, wat wêreldwyd aandag trek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….