Nuus 06:00 (DGO)
BULLETIN 17 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nhlanhla Mkhwanazi dagvaar Paul O’Sullivan vir laster
# Donald Trump sê hulle het ‘n ooreenkoms met China om TikTok oor te neem
# En krieket: Die Protea-vroue wen die eerste eendagwedstryd teen Pakistan
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, dagvaar die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan vir laster. Dit volg nadat O’Sullivan bewerings op mediaplatforms gemaak het dat Mkhwanazi betrokke is by misdadige aktiwiteite, ‘n moordbende bestuur en by korrupsie betrek word. Hy het Mkhwanazi en die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, ook daarvan beskuldig dat hulle betrokke was by die onwettige besteding van 35-miljoen-rand aan luukse voertuie. Mkhwanazi eis vyf-miljoen-rand se skadevergoeding.
# Die DA vra vir dringende ingryping terwyl studente uitsetting in die gesig staar omdat NSFAS nie verblyfvoorsieners betaal het nie. Delmaine Christians van die DA sê meer as 500 studente loop gevaar om uitgesit te word, met verhuurders wat meer as ‘n jaar nie betaal is nie. Sy vra die Parlement om die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, en NSFAS te ontbied om besnoeiings en tekorte te verduidelik, en ‘n spesifieke betalingsplan te voorsien. Sy sê daar is geen inligting oor programme wat gestaak word nie.
# Die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, verskyn Vrydag voor die Parlement se water- en sanitasiekomitee om te verduidelik hoe hy die stad se waterkrisis gaan aanspreek. Lede van die Parlement wil weet hoekom vier-miljard-rand van Johannesburg Water weggeneem is en na munisipaliteite gestuur is. Dit het tot ontstoke debat gelei met opposisiepartye wat swak munisipale dienslewering blameer. Toesighoudende besoeke word vir Oktober beplan.
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê Amerika en China het ‘n ooreenkoms oor TikTok bereik, met Washington wat sê beheer oor Tik-Tok moet na VSA-beheerde eienaarskap skuif. Die ooreenkoms is oor twee dae in Madrid bereik tussen Amerika se minister van Finansies, Scott Bessent, en die adjunk-eerste minister van China, He Lifeng. TikTok het nagenoeg twee-miljard gebruikers wêreldwyd en behoort aan die Chinese maatskappy ByteDance. ‘n Amerikaanse federale wet wat die koop of verbanning van TikTok op grond van nasionale sekerheid vereis, sou die dag voor Trump se inhuldiging in werking tree, maar Trump het dit tydelik gestop.
# Krieket: Die Protea-vroue het Pakistan met agt paaltjies verslaan in hul eerste eendagwedstryd in Lahore om ‘n 1-0 voorsprong te neem in die reeks van drie wedstryde. Sidra Amin het ‘n onoorwonne honderdtal aangeteken met die gashere op 255 vir vier in hul 50 boulbeurte. In antwoord het Marizanne Kapp en Tazmin Brits tonne lopies en ‘n ononderbroke vennootskap van 216 aangeteken en Suid-Afrika se vennootskap om die derde paaltjie, het gehelp om die besoekers die teiken suksesvol te laat bereik met tien balle oor. Die tweede eendagwedstryd vind Vrydag plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-759-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-694-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-54-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters sê tot 92-persent van Suid-Afrikaners met geestesgesondheidsprobleme, ontvang nooit behandeling nie. Gevolglik is daar drie uit vier mense sonder ondersteuning vir algemene toestande soos depressie, angs en dwelmmisbruik. Minder as een uit tien pasiënte met ernstige geestesversteurings ontvang die sorg wat hulle benodig. Die organisasie se woordvoerder, Anusha Lachman, bepleit dat geestesgesondheid geïntegreer word by primêre gesondheidsorg, die opleiding van werkers in die voorste linie, asook groter openbare bewusmaking.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….