Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel se eerste minister sê hulle veg teen Hamas in ooreenstemming met die internasionale reg
# Die IVP vra Ramaphosa om teen minister Nzimande op te tree
# En, sokker: Bafana Bafana vertrek na die Ivoorkus vir Afrikabeker-toernooi
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu sê sy land baklei teen Hamas-terroriste, nie die Palestynse bevolking nie. Hy voeg by hulle doen dit in totale ooreenstemming met die internasionale reg. Die Internasionale Geregshof hoor vandag Suid-Afrika se saak aan waarin beweer word Israel pleeg volksmoord in sy oorlog in Gaza. Netanyahu sê Israel het geen bedoeling om Gaza permanent te beset of sy burgerlike bevolking te ontwortel nie:
# Die Inkatha-Vryheidsparty sê die onlangse bewerings teen die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, vereis vinnige optrede van president Cyril Ramaphosa. Diensverskaffers wat deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente gekontrakteer is, sou na bewering miljoene rand aan die minister en die voorsitter van die skema se raad, Ernest Khosa, betaal het. Albei het die bewerings ontken. Die IVP sê Nzimande moet nou eenkant toe staan, terwyl alle wetstoepassingsagentskappe ’n volskaalse korrupsie-ondersoek doen. Die IVP sê die minister was na sy mening nog nooit geskik vir dié rol nie.
# China het invoertariewe op Suid-Afrikaanse rooibostee met ‘n beduidende 80-persent verlaag. Die invoerbelasting, nou op ses-persent, was voorheen tussen 15- en 30-persent. China is die sewende grootste mark vir Suid-Afrikaanse rooibostee. Volgens die Rooibosraad van Suid-Afrika vervaardig die land byna 20-miljoen-kilogram jaarliks en verskaf werk aan vyf-duisend mense. Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging beskou die tariefverlaging as ‘n deurbraak in die Chinese mark, wat dui op potensiële groei en geleenthede vir Suid-Afrika se rooibos-uitvoerders.
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sê sy vlugte na Perth, Australië, hervat op 28 April. Die vlugte vertrek drie keer per week – op Dinsdae, Donderdae en Sondae – vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe. Vlugte vanaf Perth word beplan vir Maandae, Woensdae en Vrydae. SAL se uitvoerende hoof, John Lamola, sê dis ‘n makliker en meer regstreekse roete wanneer reisigers vir plesier of sake vlieg, en bevorder handel en kulturele uitruiling tussen Suid-Afrika en Australië.
# Sokker: Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, glo die span kan goed vaar in die Afrikabeker-toernooi. Suid-Afrika vertrek vandag na die Ivoorkus nadat hy gister sy voorbereidings afgesluit het met ‘n oefenwedstryd teen Lesotho in Pretoria. Die toernooi begin Saterdag met die openingswedstryd tussen die gasheer en Guinee-Bissau. Suid-Afrika begin sy veldtog Dinsdag teen Mali, gevolg deur groepswedstryde teen Namibië en Tunisië. Williams het Suid-Afrikaners gevra om hulle span te ondersteun:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-22-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-31-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….