Nuus 08:00
BULLETIN 30 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IMF hou sy groeivoorspelling vir Suid-Afrika onveranderd
# Suid-Afrika se middeljaar-bevolkingsgetal styg tot 63-miljoen
# En ‘n kragtige aardbewing van 8.8 tref Rusland
# Die Internasionale Monetêre Fonds se groeivooruitsig vir Suid-Afrika bly onveranderd terwyl die vooruitsigte vir wêreldwye groei beter is. Die IMF het in April die land se vooruitsig van 1,5-persent in Januarie tot slegs 1,0-persent verlaag. Die fonds sê in sy jongste Wêreld Ekonomiese Vooruitsig Suid-Afrika sal vanjaar ‘n groeikoers van slegs een-persent hê en 1,3-persent in 2026. Intussen behoort die wêreldwye bruto binnelandse produk vanjaar met drie-persent te styg teenoor die 2,8-persent wat in April voorspel is.
# Suid-Afrika se bevolking is halfpad deur die jaar op 63-miljoen met net meer as 51-persent wat vroue is. Gauteng bly die provinsie met die grootste bevolkte met meer as 16-miljoen inwoners, gevolg deur KwaZulu-Natal met 12-miljoen, terwyl daar een-miljoen mense in die Noord-Kaap is. Gauteng en die Wes-Kaap is die voorkeurbestemmings vir interne migrasie. Diego Iturralde van Statistieke Suid-Afrika sê hoewel meer as agt-miljoen Suid-Afrikaners met MIV/Vigs leef, daal die verwante sterftes as gevolg van groter toegang tot behandeling:
# ActionSA in Gauteng sê dis onverstaanbaar dat ʼn staatskool van miljoene rand tydens ʼn dringende behoefte aan funksionele en veilige leeromgewings op ʼn ekologies sensitiewe en ondoelmatige perseel gebou word. Dit volg na onthullings dat die Bachana Mokwena Primary School in Ga-Rankuwa in ʼn vleiland gebou is. ActionSA-woordvoerder John Moodey sê die provinsiale departemente van Infrastruktuur en Onderwys moet ʼn gedetailleerde verslag voorsien oor wie die perseel goedgekeur het, watter omgewings- en bouregulasies oortree is en watter tugoptrede verwag kan word:
# ‘n Kragtige 8,8 aardbewing het Rusland se verre oostelike Kamchatka-skiereiland getref wat tot tsoenami-waarskuwings in dele van Moskou, Japan en die kusstroke van die Stille-Oseaan, die Filippyne en Indonesië gelei het. Verskeie mense is beseer terwyl owerhede waarsku oor sterk naskokke. Die skiereiland het reeds die afgelope tien dae ‘n reeks van aardskokke ondervind. Nieu-Zeeland se rampbestuursagentskap waarsku intussen die land se kusgebiede kan sterk en ongewone seestrome en onvoorspelbare golwe aan die kus verwag.
# Tennis: Agt sterbelaaide spanne is regstreeks ingeskryf vir volgende maand se Gemengde-dubbelspelkampioenskap by die Amerikaanse Ope terwyl ses spanne promotorskeuses is. Emma Raducanu en Carlos Alcaraz is een van die promotorskeuses asook Novak Djokovic en Olga Danilovic. Die tweemalige Grand Slam-gemengdedubbelspelkampioen, Venus Williams, en Reilly Opelka sal voor hul tuisskare deelneem. Die Wimbledon-enkelspelkampioen, Iga Swiatek, en Jannik Sinner is regstreeks ingeskryf saam met hulle onderskeie spanmaats, Casper Ruud en Emma Navarro. Nog twee promotorskeuses sal later aangekondig word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-954-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-327-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….