Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met nuus van die Wêrelduniversiteitspele: Span Suid-Afrika het 19 medaljes ingepalm, insluitend ses goud, vyf silwer en agt brons, op die byeenkoms in Duitsland en algeheel sewende op die medaljelys geëindig. Die grootste deel van die span se medaljes het van swem en atletiek gekom. Die negentienjarige spoedvraat Bayanda Walaza het drie medaljes verower: goud in die 100- en 200-meter en silwer in die vier-maal-100-meter-aflos. Japan was boaan die medaljelys met 79, gevolg deur China en Amerika.
# Fietsry: Die heersende kampioen, Tadej Pogačar, het sy vierde Tour de France-titel gebuit en sy status bevestig as een van die beste fietsryers van sy geslag. Die Sloween kon egter nie die laaste skof wen nie nadat die Belg, Wout van Aert eerste oor die wenstreep is in die Champs-Élysées in Parys. Die tweemalige wenner, Jonas Vingegaard van Denemarke, was vier-minute-24-sekondes stadiger as Pogačar, met die Duitser, Florian Lipowitz, derde. Pogačar sê hy besef hy kan nie vir ewig meeding nie:
# Krieket: Die vierde toets tussen Engeland en Indië in Manchester het onbeslis geëindig, terwyl die gasheer steeds 2-1 voorloop in die reeks van vyf wedstryde. Indië het die laaste dag hervat met ‘n agterstand van 137 lopies en agt paaltjies staande, maar twee vennootskappe het hulle gered. Kaptein Shubman Gill het saam met KL Rahul 188 bygedra en Washington Sundar en Ravindra Jadeja het ʼn onoorwonne vyfde-paaltjie-vennootskap van 203 opgebou. Gill sê hy is tevrede met hulle kolf-poging:
# Motorsport: Oscar Piastri van McLaren het die sy sesde oorwinning van die seisoen behaal in die Belgiese Grand Prix. Die wedren het weens swaar reën 80-minute laat begin en in die eerste vier rondes moes deelnemers ʼn veiligheidsmotor volg. Die Australiër het daarna sy Britse spanmaat, Lando Norris, verbygesteek en tot die einde voortgejaag. Charles Leclerc van Ferrari was derde. Piastri, wat sy kampioenskapsvoorsprong bo Norris tot 16-punte opgestoot het, sê dit was ʼn woelige wedren:
# En tennis: Die Australiër Alex de Minaur skryf sy oorwinning in die Washingtonse Ope toe aan sy geestelike vermoë en ingesteldheid. Die 26-jarige De Minaur het drie wedstrydpunte afgeweer voor hy die Spanjaard Alejandro Davidovich Fokina in die eindstryd geklop het vir sy tiende titel op toervlak. De Minaur is nou agste op die wêreldranglys. In die vroue-afdeling het Leylah Fernandez van Kanada met Anna Kalinskaya van Rusland afgereken om die belangrikste titel van haar loopbaan te verower.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….