Nuus 08:00
BULLETIN 28 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Transnet ontvang nog ‘n reddingsboei van 94,8-miljard-rand
# FlySafair gaan voort met ‘n kleiner vlugskedule terwyl die staking voortduur
# En die VSA en EU sluit ‘n handelsooreenkoms
# Die regering het ‘n bykomende waarborg van 94,8-miljard-rand aan Transnet toegeken wat bestaan uit 48,6-miljard-rand om oor die volgende vyf jaar skuld te delg, en 46,2-miljard-rand om die instelling teen verdere negatiewe kredietgraderings te beskerm. S&P Global het Transnet se kredietgradering afwaarts aangepas weens ʼn jaarlikse kontantgebruik van 13,5-miljard-rand en versuim om volume-teikens te haal. Die Departement van Vervoer se woordvoerder, Collen Msibi, sê die regering sal saam met Transnet werk om verbetering in bedryf en finansies te verseker:
# FlySafair sê hy gaan voort met ʼn bestendige maar beperkte vlugskedule terwyl die vlieënier-staking se tweede week begin. Stakende vlieëniers wat deur Solidariteit verteenwoordig word, het ʼn nuwe aanbod oor salarisse en diensvoorwaardes wat die maatskappy oor die naweek gemaak het, verwerp. Die vakbond sê geskille oor ʼn vergoedingsaanbod en skofroosterstelsel is steeds nie opgelos nie. Kirby Gordon van FlySafair sê die partye gaan voort om te goeder trou te onderhandel. Hy sê hulle hoop om gou tot ʼn vergelyk te kom.
# Die Activist and Citizens Forum sê die Departement van Korrektiewe Dienste moet ingesluit word in die ondersoek na korrupsie in die regstelsel. Dit volg op bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, wat die SAPD, aanklaers, die regbank en korrektiewe dienste betrek. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê daar moet deeglik ondersoek ingestel word. Hy het die moord in 2005 op die hoof van die Beleidsmonitering- en Evalueringseenheid in die Vrystaatse premier se kantoor, Noby Ngombane, as ‘n voorbeeld van beweerde sameswering in die sekuriteitsgroep genoem.
# President Donald Trump sê Amerika en die Europese Unie het ʼn handelsooreenkoms-raamwerk bereik wat ʼn oorkoepelende tarief van 15-persent sal hef op alle EU-goedere wat Amerika invoer. Dit volg nadat Trump aangekondig het heffings op die meeste goedere uit die EU sal van 1 Augustus af van die 10-persent universele basislyn tot 30-persent verhoog word. Trump en die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, het gister in Skotland beraadslaag. Trump sê die ooreenkoms is tot almal se voordeel:
# Krieket: Die vierde toets tussen Engeland en Indië in Manchester is gelykop verklaar met die gashere wat met 2-1 voorloop in die reeks van vyf wedstryde. Indië het die laaste dag hervat met ʼn teiken van 137 lopies en agt paaltjies, maar twee vennootskappe het hulle gered. Kaptein Shubman Gill het saam met KL Rahul 188 bygedra en Washington Sundar en Ravindra Jadeja het ʼn onoorwonne 203 op die vyfde paaltjie behaal om vir die besoekers ʼn gelykop-einde te verseker. Gill sê hy is tevrede met hul kolf-poging:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73 sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-82 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-390 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….