Nuus 12:00
BULLETIN 25 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BetterBond verwag die terugkoopkoers kan gesny word met inflasie wat afneem
# Sokker: Banyana se afrigter sal oor haar toekoms besluit wanneer hulle uit Marokko terugkeer
# En ‘n Kaapstadse seekoei kry ‘n nuwe tuiste by Plettenbergbaai
# BetterBond sê laer rentekoerse kan groei in die eiendomsmark verder stimuleer. Die huisleningmaatskappy sê verbandgoedkeurings het die afgelope jaar met 13,6-persent gestyg en aansoeke met 7,4-persent. Bradd Bendall van die maatskappy sê laer rentekoerse het kopersvertroue verbeter, en ‘n moontlike rentekoersverlaging volgende week kan groei in die eiendomsmark verder aanwakker:
# Die Nasionale Tesourie sê sy bedrywighede is nie geraak na ‘n kuberinbraak op die webwerf van sy infrastruktuur-verslagmodel nie. Die Tesourie sê die betrokke rekenaarbedieners is afgesluit om die omvang van die inbraak te bepaal. Hy werk saam met Microsoft om die potensiële swakhede binne die Inligtings- en Kommunikasietegnologie-omgewing teen te werk. Die Tesourie sê ook dat sy rekenaarstelsels bykans vyf-duisend-800 daaglikse aanvalle ervaar. Hy beklemtoon sy verbintenis tot kubersekerheid en die beskerming van kritieke infrastruktuurdata.
Nuus uit die buiteland:
# Brandbestryders in Turkye en Ciprus veg teen minstens ses afsonderlike veldbrande met 10 brandbestryders wat in sentraal-Turkye dood is te midde van ‘n versengende hittegolf in die Middellandse See-gebied. Verskeie dorpe en nedersettings moes as gevolg van die brande ontruim word. Die Turkse minister van Landbou en Bosbou, Ibrahim Yumakli, het gewaarsku dat sterk wind en skroeiende hitte uiters gevaarlike toestande veroorsaak. In die noordwestelike provinsie Bilecik het brande ‘n vierde agtereenvolgende dag gewoed. Inwoners in al drie provinsies is ontruim uit gebiede wat bedreig word.
# Sokker: Die hoofafrigter van Banyana Banyana, Desiree Ellis, sê sy sal haar toekoms oorweeg wanneer hulle volgende week terugkeer van die Afrikabeker-vrouetoernooi in Marokko. Die verdedigende kampioen het in die halfeindstryd teen Nigerië verloor en speel vanaand teen Ghana in die uitspeelstryd om derde plek. Nigerië en die gasvroue speel môre in die eindstryd. Ellis, wat sedert 2016 by Banyana is, erken dit sal moeilik wees om die spelers se moraal te verbeter na die halfeindronde-nederlaag en die erge beenbesering van die vleuel Gabby Salgado.
# Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-789-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-350-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-72-sent per vat.
# En laastens, die Stad Kaapstad se Bioverskeidenheids-afdeling het ‘n seekoeibul suksesvol van die Valsbaaise natuurreservaat na ‘n reservaat in Plettenbergbaai verskuif. Seekoeie is baie sensitiewe diere, en besonder moeilik om te vang en te vervoer as gevolg van hul grootte en krag, die gevaar wat hul inhou, en omdat hulle gou gespanne raak. Die onderburgemeester, Eddie Andrews, sê die metro het die afgelope tien jaar drie seekoeie suksesvol verskuif as deel van voortgesette pogings om natuurlewe te bestuur:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….