Nuus 08:00
BULLETIN 25 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die mislukte Omotoso-vervolging noop ‘n verbintenis om die NVG te hervorm
# Vyf vermeende transitorowers word doodgeskiet tydens ’n skietgeveg met die polisie in Johannesburg
# En die Amerikaanse adjunk-prokureur-generaal het Ghislaine Maxwell ondervra
# Die DA sê die herstel van die Nasionale Vervolgingsgesag se vermoë om misdadigers tronk toe te stuur, is noodsaaklik om Suid-Afrika veilig te maak vir sy landsburgers en om geslagsgeweld uit te roei. Die Oos-Kaapse Hooggeregshof het vroeër die week beslis die NVG is nie geregtig op ‘n verduideliking van die hof se onskuldigbevinding van die Nigeriese televisie-prediker, Timothy Omotoso, op aanklagte van verkragting nie. Die DA sê dit sal die NVG se saak in die Appèlhof verswak en kan tot nog ʼn nederlaag in die stryd teen geslagsgeweld lei.
# Die EFF is bekommerd dat die hoë koste van elektrisiteit in die land Suid-Afrika se ekonomie kan destabiliseer. Julius Malema van die EFF sê stygende kragtariewe plaas ‘n ondraaglike las op huishoudings, klein besighede en die vervaardigingsektor, wat tot gemeenskapsonrus kan lei. Malema waarsku teen verhoogde werkloosheid, verminderde ekonomiese aktiwiteit en verdere verergering van ongelykheid. Hy bepleit ‘n dringende verskuiwing na meer bekostigbare energie-moontlikhede:
# Vyf vermeende transito-rowers is gistermiddag in Crown Mines, Johannesburg, in ʼn skietery met die polisie dood. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê hulle het gereageer op intelligensie oor ʼn transitorooftog en die verdagtes se voertuig is naby die M1/M2-hoofwegverdeling opgemerk. Sy sê die verdagtes het weggejaag toe hulle die polisie sien en is agtervolg. Nevhuhulwi sê die verdagtes het op die polisie geskiet en hulle het teruggeskiet:
# Amerika se adjunk-prokureur-generaal, Todd Blanche, het gister in Tallahassee, Florida, met wyle Jeffrey Epstein se medepligtige, Ghislaine Maxwell, vergader waar sy ʼn vonnis van 20 jaar uitdien vir sekshandel. Die vergadering volg ná openbare kritiek oor president Donald Trump se administrasie se vermeende gebrek aan deursigtigheid in verband met dokumente oor die Epstein-saak. Maxwell se prokureur, David Oscar Markus, sê hy is dankbaar Blanche het sy kliënt kom vrae vra:
# Krieket: Engeland het dag twee van die vierde toets teen Indië hul eerste beurt op 225 vir twee afgesluit op Old Trafford in Manchester. Kaptein Ben Stokes het die eerste keer sedert 2017 vyf paaltjies platgetrek en Indië, wat die dag op 264 vir vier hervat het, was op 358 almal uit. Aanvangskolwers Ben Duckett en Zak Crawley het die aanval gelei met ʼn vennootskap van 166 en Engeland beheer oor die wedstryd gegee. Die gashere loop met 2-1 voor in die reeks.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-014-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-361-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….