Nuus 12:00
BULLETIN 24 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die veiling van drie luukse Gupta-wonings begin in Saxonwold
# Die Activists and Citizens Forum sê korrupsie is erger onder Ramaphosa se administrasie
# En China is baie bekommerd oor die toenemende botsings tussen Thailand en Kambodja
# Drie luukse herehuise in Saxonwold, Johanesburg, wat met die Gupta-familie verbind word, word vandag opgeveil. Die eiendomme, wat ook met staatskaping verbind word, sal na verwagting minder haal as die gesamentlike munisipale waarde van 64-miljoen-rand. Park Village Auctions hanteer die verkope wat skuld moet delg nadat Atul, Ajay en Rajesh Gupta se firma, Confident Concept, in 2018 bankrot verklaar is. Deposito’s vir die veiling wissel van 250-duisend- tot 500-duisend-rand. Meubels en toestelle sal afsonderlik verkoop word.
# Die Activists and Citizens Forum sê korrupsie in Suid-Afrika is baie erger onder die administrasie van president Cyril Ramaphosa as wat dit onder Jacob Zuma was. Suid-Afrika is 90ste van die 180 lande wat op Transparency International se aanwyser oor korrupsie in die openbare sektor gelys is. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê korrupsie is heeltemal buite beheer op alle regeringsvlakke en amptenare steel gereeld belastingbetalers se geld sonder enige gevolge:
# Die internasionale polisie-organisasie Interpol se buro in Pretoria het ‘n 57-jarige Chinese voortvlugtige in hegtenis geneem wat betrek word by ‘n bedrogsaak in sy vaderland. Dit volg nadat ‘n rooi waarskuwing aan alle lidlande uitgereik is om die persoon op te spoor. Polisie-woordvoerder Amanda van Wyk sê hulle sal voortgaan om transnasionale misdaadsindikate af te takel en internasionale voortvlugtiges in die land in hegtenis te neem:
Nuus uit die buiteland:
# China sê hy is diep bekommerd oor die dodelike botsings tussen Kambodja en Thailand, wat ‘n dramatiese toename in die grensgeskil tussen die twee buurlande veroorsaak het. Die onmin gaan oor ʼn gebied bekend as die Smarag-driehoek waar die twee lande se grense en Laos ontmoet, en waar verskeie antieke tempels is. Die voortslepende geskil duur reeds dekades lank en het in Mei opgevlam toe ʼn Kambodjaanse soldaat dood is. Kambodja het vandag vuurpyle en bomme op Thailand afgevuur en die Thaise Weermag het lugaanvalle uitgevoer.
Nou sportnuus:
# Die Amerikaanse Olimpiese en Paralimpiese Komitee het besluit om transgender-vroue te verbied om aan vrouesport deel te neem ná ’n uitvoerende bevel deur president Donald Trump. Beamptes het nasionale beheerliggame ingelig dat hulle sal moet meedoen aangesien hulle ‘n verpligting het om aan federale verwagtinge te voldoen. Die komitee sê die hersiene beleid beklemtoon die belangrikheid van ‘n regverdige en veilige kompetisie-omgewing vir vroue. Die Nasionale Vroue-wetsentrum het die besluit veroordeel en sê die komitee offer sy eie atlete se belange op.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-765-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-373-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….