Nuus 18:00
BULLETIN 16 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa se begroting vir presidensie fokus op werksgeleenthede, groei en skoon regering
# Die minister van die Omgewingsminister wil die teling van leeus in aanhouding verbied
# En rugby: Die Bokke gaan nie appelleer teen Jasper Wiese se skorsing vir sy rooikaart nie
# President Cyril Ramaphosa sê die Presidensie gaan fokus op werkskepping, om die ekonomie te laat groei en skoon regering te bevorder. Hy het tydens die debat oor die Presidensie se begroting in die Parlement gesê die regering van nasionale eenheid is daartoe verbind om saam te werk om die land te herbou en armoede te verminder. Ramaphosa het groot beleggings in infrastruktuur aangekondig, asook uitgebreide jeugwerksgeleenthede en sterker pogings om korrupsie en misdaad te beveg:
# Die Openbare Beleggingskorporasie het sy hoof van Ongenoteerde Beleggings, Thabiso Moshikara, geskors ná bewerings van omkopery. News24 berig Moshikara word daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld van drie-miljoen-rand geëis het wat gekoppel is aan die korporasie se ongenoteerde beleggingsportefeulje. Die korporasie bestuur bates van meer as twee-duisend-miljard-rand namens staatswerkers en sê hy ondersoek die saak op interne vlak om te bepaal of strafregtelike klagtes benodig word. Die korporasie het homself verbind tot deursigtigheid en verantwoordbaarheid terwyl die ondersoek gedoen word.
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê die regering doen stappe om nuwe teelgeriewe vir leeus in aanhouding te verbied, wat belangrik is vir die beskerming van natuurlewe. ‘n Verbodkennisgewing sal binnekort gepubliseer word as deel van breër pogings om skadelike teelpraktyke uit te faseer en dierewelstand te beskerm. Die verbod volg die raad van kundiges en ondersteun sterker bewaringswette. Die departement het belangrike stappe voltooi om die verbod in te stel en sal provinsies betrek om ‘n gladde proses te verseker.
George het ook die Renoster Renaissance-veldtog in die Kruger-wildtuin bekendgestel en dit ‘n bepalende oomblik in Suid-Afrika se G20-presidentskap beskryf. Die veldtog wil die wildtuin se witrenosterbevolking binne ‘n dekade van twee-duisend na 12-duisend laat toeneem, deur gevorderde spoorsnywerk, onthoring en die opleiding van jong veldwagters. Die minister het aan SABC News gesê tegnologie-gedrewe veldtogte sal help om Suid-Afrika se renosternalatenskap te beskerm:
# Rugby: Die Springbokke het besluit om nie te appelleer teen Jasper Wiese se skorsing van vier wedstryde vir die rooikaart wat hy in die tweede toets teen Italië in Gqeberha gekry het nie. Hy sal Saterdag se toets teen Georgië in Mbombela misloop, asook die eerste drie Rugbykampioenskaps-wedstryde. Afrigter Rassie Erasmus het die tugproses geloof en sê Wiese het sy kant van die storie goed weergegee nadat hy die Italiaanse stut Danilo Fischetti met die kop gestamp het. Erasmus glo die skorsing is regverdig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-423-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-326-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….