Nuus 11:00
BULLETIN 10 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa het vertroue in Suid-Afrika se saak teen Israel
# Ekonome verwag ‘n uitdagende ekonomiese landskap in SA in 2024
# En, Tennis: Tennis Australië word geroskam oor sy toedeling van promotorskeuses vir die Grand Slam
# President Cyril Ramaphosa sê hy is vol vertroue dat Suid-Afrika ‘n sterk saak teen Israel het. Die kwessie word môre en Vrydag in die Internasionale Geregshof in Den Haag aangehoor. Suid-Afrika beskuldig Israel van volksmoord in sy oorlog in Gaza. Ramaphosa het gister tydens ʼn besoek aan die koningshuise van Amandebele gesê dis ʼn saak van menslike en algemene geregtigheid en dat die volksmoord wat volgens hom in Gaza ontwikkel, onmiddellik gestop moet word:
# Die raad van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente sê die Arbeidshof het hom gelyk gegee oor sy besluit om die dienskontrak van die gewese uitvoerende hoof, Andile Nongogo, te beëindig. Die hof het Nongogo se aansoek om heraangestel te word, van die hand gewys en gesê dit was volgens prosedure korrek van die raad om sy beslissing teen die agtergrond van ‘n verslag deur Werksmans Prokureurs te maak. Die woordvoerder van skema, Ishmael Mnisi, sê Nongongo word in die verslag by onregmatige optrede betrek wat die aanstelling van diensverskaffers vir direkte betalings betref:
# Ekonome verwag vanjaar ‘n uitdagende ekonomiese landskap in Suid-Afrika. Dit word toegeskryf aan die onopgeloste energieprobleme, die komende verkiesing en ‘n gespanne fiskale situasie. Hoë wêreldwye rentekoerse gaan na verwagting ook uitdagings veroorsaak vir maatskappye en verbruikers. Die Internasionale Monetêre Fonds voorspel ‘n globale ekonomiese afplatting van 2,9-persent in 2024. Ontleders soos Raymond Parsons en Dale McKinley het hulle bedenkinge en sê hervormings is noodsaaklik om potensiële groei te laat versnel.
# Die EFF in Gauteng sê hy veroordeel ten sterkste die haastige, onverdiende en ongeregverdigde afdanking van meer as 400 werkers by Gold One-myn. Die afdanking volg ná hulle betrokkenheid by die ondergrondse sitstakings laat verlede jaar by die myn se bedrywighede in Springs, Ekurhuleni. Die EFF sê Gold One-myn, soos talle ander mynmaatskappye, toon arrogansie want hy geniet mag oor werkers en word byna nooit deur die regering gereguleer nie.
# Tennis: Die hoof van die Australiese Ope, Craig Tiley, het die proses van die toevoeging en verspreiding van promotorskeuses verdedig. Dit volg nadat Arina Rodionova Tennis Australië gekritiseer het en beweer het ‘n persoonlike vendetta teen haar het verhoed dat sy as ‘n promotorskeuse by die afgterdeur na die Ope inglip, in weerwil van die feit dat sy die voorste vrouespeler in haar land is. Die 34-jarige Radionova is gister in die kwalifiserende ronde van die Australiese Ope uitgeskakel. Tiley sê verskeie faktore word oorweeg om ‘n speler as ‘n promotorskeuse aan te wys, insluitend ouerdom, huidige vorm en die hoeveelheid wedstryde wat hulle gepseel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-786-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-31-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….