Nuus 12:00
BULLETIN 7 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA vra die Inligtingsreguleerder vir toegang tot die Phala Phala-dokumente
# Die senior polisie-offisier Sindile Mfazi se dood in 2021 is nou ’n moordondersoek
# En sokker: Spanje klop Portugal en België skakel Amerika uit om die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi te haal
# ActionSA het die Inligtingsreguleerder genader vir toegang tot dokumente oor die Phala Phala-skandaal. Die party versoek president Cyril Ramaphosa se beëdigde verklaring en finansiële rekords oor die beweerde beplanner van die inbraak op sy plaas in Limpopo in 2020, Imanuwela David. Woordvoerder Michael Beaumont sê dit kan teenstrydighede openbaar tussen die aangemelde gesteelde bedrag van 8,7-miljoen-rand en bewyse dit was eerder 15-miljoen-rand. Hy het ook steun beklemtoon vir die parlementêre ampsklagkomitee:
# Die polisie het ‘n deurbraak gemaak in die ondersoek na die dood van die gewese adjunk-nasionale polisiekommissaris vir Misdaadopsporing. Die 59-jarige Sindile Mfazi se dood in 2021 is aanvanklik toegeskryf aan Covid-19, maar forensiese toetse het later tekens van gif in sy oorskot gekry. Die polisie het gisteraand klopjagte uitgevoer op verskeie eiendomme van polisielede in Centurion, Pretoria. Nasionale woordvoerder Athlenda Mathe sê talle hoëprofiel-individue is as persone van belang geïdentifiseer:
# Die vakbondfederasie Cosatu verwelkom die Departement van Binnelandse Sake se plan om immigrasie-afdwinging te versterk deur ‘n bykomende 301 immigrasie-amptenare te werf. Die toename van 868- tot een-duisend-169 amptenare sal die afdwingingsvermoë met 35-persent verbeter. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê dis ‘n hupstoot vir die departement en ‘n verligting vir oorwerkte personeel:
# Sokker: 2010 se kampioen, Spanje, en België gaan mekaar in die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi ontmoet. Mikel Merino se doel in die doodsnikke in Dallas het Spanje ‘n oorwinning van 1-nul oor Portugal besorg in die ronde van 16. Portugal se afrigter, Roberto Martinez, het daarna bedank, terwyl kaptein Cristiano Ronaldo reeds vroeër aangekondig het dit sal sy laaste toernooi wees. België het die mede-gasheer, Amerika, in Seattle 4-1 geklop danksy Charles de Ketelaere se twee doele en een elk deur Hans Vanaken en Romelu Lukaku.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-100-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-134-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte: Die finansiële dienstemaatskappy JustMoney moedig Suid-Afrikaners aan om stokvelle versigtig te kies. Terwyl die land nasionale spaarmaand vier, sê die maatskappy stokvelle kan ‘n doeltreffende manier wees om spaargeld en goeie finansiële gewoontes op te bou, mits hulle duidelike bestuur, veilige bankreëlings en bekostigbare bydrae-vereistes handhaaf. Sarah Nicholson van JustMoney het verbruikers ook aangemoedig om waaksaam te wees vir swendelary en om by stokvelle aan te sluit wat ooreenstem met hul persoonlike spaardoelwitte en langtermyn finansiële welstand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….