Goeie Nuus
BULLETIN 11 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Professor Ivan Turok van die Universiteit van die Vrystaat is aangewys as ontvanger van die Regional Studies Association se 2025-toekenning vir uitsonderlike diens. Hierdie internasionale erkenning vereer Turok se aansienlike bydrae tot stedelike en streeksnavorsing wêreldwyd en in Afrika. Sy navorsing het gefokus op die ekonomiese struktuur en prestasie van Suid-Afrikaanse stede en ander reg oor die vasteland. Turok sê die toekenning is ‘n groot eer, veral omdat dit akademici van die globale Suide verteenwoordig.
# ʼn Senior dosent aan die Walter Sisulu Universiteit se Urologie-afdeling, Jeff John, het sy doktorsgraad in Urologie aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Hy is slegs die tweede persoon aan die Universiteit van Kaapstad en vyfde nasionaal wat met ʼn doktorsgraad in Urologie spog. John het ook die IsoWire ontwerp wat veiligheid verbeter tydens nieroperasies om nierstene te verwyder. Hy sê hy is passievol oor die skep van gereedskap wat pasiënte se uitkomste en sjirurgiese onderrig bevorder.
# Hold My Hand nooi kinders en tieners landwyd uit om in te skryf vir ʼn nuwe kompetisie, Hear Me Out. Kinders jonger as 18 word aangemoedig om na te dink oor wat hulle help om veilig genoeg te voel om te praat, wat hulle wens hulle ouers, onderwysers en versorgers het regtig van hulle wêreld geweet, en hoe grootmense hulle in moeilike tye kan help. Voorleggings kan in enige formaat gedoen word: ʼn tekening, kletsrym, stemboodskap, kort video, brief of gedig. Die sluitingsdatum is 8 Augustus.
# Oorspronklike kunswerke en afdrukke deur die bekroonde Britse sanger en liedjieskrywer Ed Sheeran is tot 1 Augustus te sien in ‘n nuwe uitstalling in die Heni-galery in sentraal-Londen. Geld wat met die uitstalling ingesamel word, sal aan die Ed Sheeran-stigting gaan om om inklusiewe, hoëgehalte-musiekonderrig aan kinders van alle agtergronde te bied. Die uitstalling heet Cosmic Carpark Paintings. Sheeran sê hy was nog altyd geïnteresseerd in skilderkuns:
# En ten slotte, motorsport: Die tweemalige Dakar-motorfietskampioen, Sam Sunderland, gaan in September probeer om in minder as 19 dae om die wêreld te ry. Die 36-jarige Brit sê hy besef dit gaan geestelik uitdagender wees as enigiets wat hy nog ooit gedoen het. Kevin en Julia Sanders het die rekord van 19-dae-agt-ure-25-minute in 2002 opgestel, maar die Guinness-wêreldrekords erken nie meer die prestasie nie omdat dit so gevaarlik is. Sunderland sal meer as een-duisend-600-kilometer per dag moet aflê om sy doelwit te bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….