Eko-minuut 13:30
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 14 November 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die hoofekonoom van Agbiz, Wandile Sihlobo, het die nuus verwelkom dat die land moontlik die ergste gevolge van El Niño kan vryspring weens goeie reën wat voorspel word. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se jongste data dui bo-normale reënval van November tot Maart in die noordooste aan, terwyl minder reënval in die sentrale en suidwestelike dele van die land verwag word. Sihlobo sê hierdie reën sal na verwagting kritieke stadiums ten opsigte van bestuiwing van somergewasse dek, wat broodnodige vog sal verskaf en moontlik tot beter opbrengste sal lei.
# Sowat 739-miljoen kinders wêreldwyd woon in gebiede waar daar groot tot baie ernstige waterskaarstes is en klimaatsverandering dreig om dit nog erger te maak. Dit is volgens ‘n nuwe verslag met die titel The Climate Changed Child, van die Verenigde Nasies se Internasionale Kindernoodfonds. Die verslag bied ‘n ontleding van drie vlakke van watersekerheid wêreldwyd – waterskaarsheid, water-kwesbaarheid, en waterstres. Die uitvoerende direkteur van UNICEF, Catherine Russell, sê ondanks hulle unieke kwesbaarheid, is kinders óf geïgnoreer of tot ‘n groot mate nie in ag geneem in gesprekke oor klimaatsverandering nie.
# En laastens: Afgevaardigdes van regoor die wêreld vergader in Nairobi, Kenia, vir belangrike samesprekings om die eerste wêreldwye verdrag wat oor die plastiekbesoedelingskrisis handel, te formuleer. Die ooreenkoms, wat teen volgende jaar gefinaliseer sal word, is gerig op die beëindiging van plastiekbesoedeling in oseane en die atmosfeer, insluitende die gevolge daarvan op mense en diere. Amerika, Saoedi-Arabië, Indië en China het in die verlede voorkeur gegee aan verbintenisse deur die staat, terwyl ander, insluitende Afrika, verbintenisse wêreldwyd verkies. Plastiekafval moet teen 2040 met 75-persent verminder om uitlatings te beperk. Die besprekings is veronderstel om Sondag af te sluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….