Nuus 07:00
BULLETIN 11 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regbank versoek Mkhwanazi om bewyse vir sy bewerings te lewer
# RISE Mzansi dring aan op optrede teen die dobbelverslawingskrisis
# En ‘n regter keer Trump se uitvoerende bevel oor geboortereg-burgerskap
# Die regbank eis dat KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, bewyse verskaf van vermeende sameswering tussen onder andere die regbank en misdadigers. Hy het ook die minister van Polisie, Senzo Mchunu, beskuldig van politieke inmenging in hoëprofielsake. Die woordvoerder van die Hoofregter se kantoor, Bongiwe Gambu, sê sulke bewerings sonder bewyse is uiters skadelik vir openbare vertroue in die onafhanklikheid en integriteit van die howe:
# Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling se Werkgroep oor Omkopery sê Suid-Afrika vorder met die bekamping van buitelandse omkopery, ten spyte van die skade wat deur staatskaping veroorsaak is. Die Fase 4-verslag beklemtoon sterker ondersoeke, regshervormings en oorgrens-samewerking. Suid-Afrika het sedert 2014, 18 sake van omkopery geopen maar worstel steeds met uitdagings in sy 14 voortgesette ondersoeke. Die organisasie verwelkom die beskerming van verklikkers maar eis verbeterde opsporing, vervolging en korporatiewe aanspreeklikheid, aan die vooraand van Suid-Afrika se nakomingsverslag in 2027.
# RISE Mzansi sê dobbelverslawing het ‘n nasionale krisis geword en moet as ‘n maatskaplike euwel gesien word. Die parlementêre hoofsweep, Makashule Gana, het aan die Nasionale Vergadering gesê selfs skoolkinders is nou al verslaaf, wat hulle ontwikkeling benadeel. Gana het Rhodes Universiteitstudent Reatlegile Matsunyane se oproep vir trauma-ingeligte, gemeenskapsgegronde ondersteuningstelsels, beaam. Hy doen ‘n beroep op die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling om jong mense te betrek om saam oplossings te skep, en gewaarsku Suid-Afrika kan nie bloot die stryd teen armoede voortsit nie, maar moet ook ‘n verslegtende sorgkrisis die hoof bied.
# Twee vermeende ontvoerders is gister doodgeskiet en drie ander gearresteer tydens ‘n poging om ʼn 60-jarige sakeman in Randfontein, Gauteng, te red. Die man is op 29 Mei vanjaar in Lenasia, suid van Johannesburg, ontvoer. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die familie het ná sy ontvoering eise vir ʼn losprys van minstens 15-miljoen-rand begin ontvang:
# ʼn Federale regter in New Hampshire het president Donald Trump se uitvoerende bevel om geboortereg-burgerskap te beëindig, gekeer. Volgens die bevel mag kinders van ongedokumenteerde ouers wat in Amerika woon, nie burgerskap kry nie. Die geding is namens ʼn swanger immigrant, immigrante-ouers en hul kinders voor die hof gebring. Regter Joseph LaPlante sê om ʼn persoon die bestaande reg tot geboortereg-burgerskap te ontneem, veroorsaak onherstelbare skade en geboortereg-burgerskap is die grootste voorreg in die wêreld.
# Tennis: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen, Iga Swiatek, kom môre in die Wimbledon-eindstryd teen die Amerikaner, Amanda Anisimova, te staan. Die gewese wêreld-nommer-een van Pole het gemaklik met Belinda Bencic van Switserland afgereken terwyl Anisimova die wêreld se voorste vrouespeler, Aryna Sabalenka van Belarus verslaan het. Dit is beide Swiatek en Anisimova se eerste Wimbledon-eindstryd. Die 23-jarige Anisimova sê dis ongelooflik om in die eindstryd te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-962-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-329-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….