Nuus 11:00
BULLETIN 9 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mededingingskommissie se rand-manipulasiesaak kry ‘n groot terugslag
# Die IVP vra die minister van Gesondheid om die krisis van werklose dokters dringend te hanteer
# En, die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake ontmoet vandag Israelse leiers
# Die Mededingingskommissie se rand-manipulasiesaak het ‘n groot terugslag beleef toe die Mededingingsappèlhof 23 van die 28 handelsbanke wat by die ondersoek betrek is, vrygespreek het. Die kommissie het beweer die banke en finansiële instellings was betrokke by ʼn sameswering om die rand/dollar-wisselkoers tussen 2007 en 2013 te manipuleer. Die hof het bevind die kommissie het staatgemaak op vae bewyse en onvoldoende feite om sy saak te staaf. Slegs vyf banke, naamlik Investec, JPMorgan Chase, HSBC, BNP Paribas en Credit Suisse, sal nou moontlik vervolg word.
# Die IVP sê die werkloosheidskrisis onder dokters is geen gewone krisis nie, maar ʼn werklikheid in die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel wat reeds besig is om in duie te stort. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging-vakbond beweer het meer as 800 gekwalifiseerde dokters is werkloos weens begrotingstekorte in die Gesondheidsdepartement. Die IVP se nasionale woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, doen ʼn beroep op die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, om die krisis as ‘n saak van dringendheid te beskou:
# Die DA in Johannesburg sê inwoners smag na daadwerklike leierskap in die stad ná die skrikwekkende onstuimigheid in die raad verlede jaar. Johannesburg het verlede jaar drie burgemeesters en twee speakers gehad en onder meer twee rampe beleef. Neuren Pietersen van die DA sê die raad sal vanjaar eerste aandag moet skenk aan sy beleidspunte wat dienslewering voorop stel, vertroue aanwakker en beleggings bevorder:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, is vandag in Tel Aviv vir vergaderings met Israelse leiers. Dit is sy vierde besoek aan die Midde-Ooste in drie maande. Volgens die Guardian sal Blinken probeer om die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, te oortuig om met ernstige onderhandelinge te begin oor ‘n ná-oorlogse regering in Gaza, om meer te doen om burgerlikes in Gaza te beskerm en om meer hulp in die gebied toe te laat. Netanyahu het die VSA se voorkeur-keuse van die skepping van ‘n verenigde Palestynse staat bestaande uit die Wesoewer en Gaza verwerp.
# Rugby: Jamie George van Engeland sê Owen Farrell se diens aan die Engelse rugbyklub Saracens laat hom toe om die klub op sy eie voorwaardes te verlaat. Die France klub Racing 92 het volgens berigte met samesprekings begin om ‘n kontrak met Engeland se kaptein te onderteken, hoewel hulle nog nie ‘n ooreenkoms bereik het nie. Farrell se kontrak met Saracens verval na afloop van die 2023/24 Premierliga-seisoen. George sê indien Farrell Saracens wel verlaat, sal dit ‘n groot verlies wees vanweë sy bydrae as speler en mens. Indien Farrell by Racing 92 aansluit, sal hy nie vir die nasionale span in aanmerking kan kom nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-802-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-34-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….