Nuus 09:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF-leier, Julius Malema, vra die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, Blade Nzimande, om te bedank ná bewerings rakende die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente
# Limpopo se LUR vir Vervoer sê verkeersbeamptes sal vandag op die paaie ontplooi wees te midde van verwagte swaar verkeer
# En, rugby: Boeta Chamberlain se misskop verseël ‘n dramatiese Leeus-oorwinning
# Die EFF-leier, Julius Malema, doen ‘n beroep op die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, Blade Nzimande, om te bedank ná bewerings van ‘n kriminele sindikaat wat aan die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente gekoppel is. Malema sê Nzimande is teen die studente vandat hy om faksieredes in dié departement geplaas is, en beskuldig Nzimande daarvan dat hy dié vermeende sindikaat as ‘n geldbron daar gevestig het wat hy gebruik om homself te verryk:
# Die LUR vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid, Florence Radzilani, sê verkeersbeamptes sal vandag op alle provinsiale paaie ontplooi word. Druk verkeer word op die N1 tussen Limpopo en Gauteng verwag. Radzilani doen ‘n beroep op alle padgebruikers om verkeersreëls te gehoorsaam en bedag te wees op hulle spoed, en voetgangers op paaie:
# Die Mpumalanga Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap is gereed om die afgevaardigdes te verwelkom wat die ANC se 112de Verjaardagvieringe volgende Saterdag in die Mbombela-stadion gaan bywoon. Die geleentheid sal na verwagting meer as 46-duisend mense van verskeie provinsies en naburige lande lok. Die woordvoerder van die Parkagentskap, Simphiwe Shungube, sê die byeenkoms sal die ekonomie stimuleer en meer werkgeleenthede vir die mense van Mpumalanga skep, veral in die gasvryheidsbedryf, en in die veiligheid- en sekuriteitsektor:
# Bangladesj het vanoggend begin stem in ‘n verkiesing wat eerste minister, Sheikh Hasina, haar vyfde termyn in die amp waarborg nadat opposisiepartye dit geboikot het en hulle feitlik geheel en al ontwrig is weens massa-inhegtenisnemings. Die opposisie, Bangladesj Nasionalistiese Party (BNP), en ander partye, het verlede jaar maande lank betoog en geëis Hasina onttrek voor die verkiesing. Nagenoeg 25-duisend lede van die opposisie, insluitende die hele plaaslike leierskap van die BNP, is in hegtenis geneem in die daaropvolgende onderdrukking. Die regering voer aan die getal is 11-duisend. Stemlokale bly oop tot vyf-namiddag vandag en die uitslae word na middernag verwag.
# En, laastens, Rugby: Boeta Chamberlain het ‘n strafskop in die laaste sekondes van die wedstryd misgeskop, wat die Haaie ‘n dramatiese tuis-oorwinning in die Verenigde Rugbykampioenskap oor die Leeus sou besorg het. Pleks daarvan duur hul nagmerrieseisoen nog ‘n week langer, ná ‘n nederlaag van 18-20. Die Leeus het laat ‘n drie gedruk en oorgeskop om hulle ‘n voorsprong van 20-18 te gee met 90 sekondes oor op die horlosie. Die fokus verskuif nou na Europa, waar die Haaie ‘n oorwinning teen die Franse span Oyonnax benodig om in die Uitdaagbeker te bly. Die Leeus, met twee oorwinnings uit twee, pak volgende Saterdagaand vir Montpellier in ‘n laat wedstryd wat ‘n uitdaging gaan wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….