Nuus 08:00
BULLETIN 2 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ad hoc-komitee sê hy wyk nie van sy getuiereëls af nie
# Suid-Afrika teken ‘n styging van 12,8-persent in internasionale toeriste-aankomste aan
# En Madibeng se munisipale bestuurder oorleef ‘n oënskynlike sluipmoordpoging
# Die parlementêre ad hoc-komitee se voorsitter, Soviet Lekganyane, het die komitee se prosedurele werk verdedig, insluitend wat getuies betref wat voor hom verskyn het. Dit volg nadat Vusi Shongwe van die MK-party aan die Madlanga-kommissie gesê het dis moeilik om Misdaadintelligensie se adjunkhoof, Feroz Khan, te kry om voor die komitee te verskyn. Hy beweer dis weens teenkanting van komiteelede en het die EFF-leier, Julius Malema, uitgesonder. Lekganyane sê alle komiteelede het ‘n sê in die getuie-lys:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het die toename in internasionale besoekersgetalle verwelkom, met meer as 4,2-miljoen toeriste wat tussen Januarie en Mei vanjaar in Suid-Afrika aangekom het. Dit is ‘n toename van 12,8-persent in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Die grootste groei het van Afrika- en Europese markte gekom, terwyl toeriste-aankomste uit Brasilië ook skerp toegeneem het. De Lille sê belegging in toerisme en verbeterde lugroetes help om meer besoekers te lok.
# Madibeng se munisipale bestuurder, Quiet Kgatla, het ʼn moontlike sluipmoordpoging oorleef toe talle skote op die R-511 by Silkaatsnek naby Hartbeespoort in Noordwes op hom geskiet is. Volgens voorlopige inligting het gewapende mans in ʼn donker grys Volkswagen Polo op Kgatla se voertuig geskiet voordat hulle van die toneel gevlug het. Hy het wonde aan sy arm en pelvis opgedoen. Kgatla lei pogings om vermeende korrupsie, finansiële wanbestuur en ander onreëlmatighede waarby sekere munisipale beamptes betrek word, te identifiseer en aan te spreek. Die motief vir die aanval is tans onbekend.
# Die waarnemende Amerikaanse prokureur-generaal, Todd Blanche, sê federale aanklaers en wetstoepassers sal toeslaan op sogenaamde “geboorte-toerisme”. Die Hooggeregshof het Dinsdag herbevestig dat enige persoon wat in Amerika gebore word, ʼn burger is, selfs al is die kind se ouers nie. Volgens die Migrasie-beleidsinstituut, skenk daar jaarliks tot 26-duisend vroue met toeriste-visums geboorte in Amerika. Blanche sê mense wat met toeriste-visums na Amerika reis net om geboorte te skenk, oortree federale wette:
# Tennis: Die wêreld se nommer een en verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, het deurgedring na die derde ronde van Wimbledon nadat hy Nuno Borges van Portugal verslaan het. Die sewemalige kampioen Novak Djokovic van Serwië het sy segetog na ‘n rekord van ‘n 25ste Grand Slam-titel voortgesit deur Stefanos Tsitsipas van Griekeland te klop. In die vroue-afdeling het nommer een Aryna Sabalenka van Belarus die ongekeurde Amerikaner McCartney Kessler verslaan. Coco Gauff van Amerika het gesukkel om Solana Sierra te wen en Barbora Krejcikova van Tsjeggië het die Russiese tiener Mirra Andreeva verras.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-555-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-63-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….