Nuus 09:00
BULLETIN 6 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit versoek Gold One-myn se plan om verdere stakings te voorkom
# ‘n ANC-veteraan sê Zuma misbruik MK se naam
# En sokker, die SABC sal al 52 Afconwedstryde uitsaai
# Die vakbond, Solidariteit, eis ʼn strategie van die Gold One-myn in Springs aan die Gautengse Oos-Rand om moontlike verdere stakings te voorkom en die veiligheid van werkers te verseker. Dit volg na die afdanking van 92 mynwerkers wat by geweld betrokke was terwyl sommige wou terugkeer ondergronds. Die myn was verlede maand op die punt van ʼn gewelddadige sitstaking wat op aanrandings en dreigemente uitgeloop het. Die staking het gevolg op ʼn soortgelyke een in Oktober. ʼn Woordvoerder van Solidariteit, Paul Mardon, het lede aangeraai om nie die werkplek te betree nie totdat hulle veiligheid verseker kan word:
# Die ANC-veteraan Omry Makgoale sê oudpresident Jacob Zuma misbruik die naam van MK omdat uMkhonto we Sizwe die paramilitêre vleuel van die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party was. MK is in Desember 1961 gestig en sy missie was om teen die Suid-Afrikaanse apartheidsregering te veg. Makgoale het aan Newzroom Afrika gesê dat niemand die MK-naam moet gebruik as hulle hulle nie vereenselwig met die ANC en SAKP nie:
# Google het begin om derdeparty-koekies te beperk vir ‘n deel van hulle gebruikers van die Chrome-webleser, wat die eerste stap is in die uitfasering van hierdie lêers waarby privaatheid betrokke is. Die maatskappy beoog om toetse uit te voer en geleidelik die beperking uit te brei na alle gebruikers van die derde kwartaal van vanjaar, mits goedkeuring verkry word van Brittanje se Mededingings- en Markowerheid. Google het in 2020 sy voorneme aangekondig om derde party-koekies uit te skakel, maar die proses het met vertragings gesukkel. Die ontwikkeling stem ooreen met die neiging in die breër bedryf van verskepte regulasies vir aanlyn-volging en data-privaatheid.
# Sokker: Die SABC het die uitsaairegte vasgeknoop vir die Afrikabekertoernooi nadat SuperSport nie ‘n uitsaailisensie kon verkry nie. Die openbare uitsaaier sal nou al 52 wedstryde in die toernooi op televisie en radio uitsaai, asook digitaal, en het ook ‘n ooreenkoms ingepalm vir die uitsaai van ander Afrika-toernooie. Afcon skop volgende Saterdag in die Ivoorkus af en eindig op die 11de van volgende maand. Die organiseerders het vroeër aangekondig die prysgeld is met 40-persent verhoog, met die kampioen wat 131-miljoen-rand ryker sal wees.
# En ten slotte, die feestyd het ‘n ekonomiese hupstoot vir kusgemeenskappe meegebring, met die Wes-Kaap wat ‘n besige toerisme-seisoen ondervind het. Kaapstad se toerismesektor het beduidende groei ervaar, met ramings wat dui op 215 internasionale vlugte per week en 50 passassierskepe wat vasgemeer het. Die Tafelberg-Sweefspoormaatskappy het hoër besoekersgetalle vir Oktober en November aangemeld en kusdorpe soos Plettenbergbaai het ook verhoogde besoekersgetalle ondervind, hoewel dit nog nie so hoog soos voor Covid was nie. George en Overstrand het ook groei getoon met meer besprekings en groter besoekersgetalle.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….