Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Regter Dikgang Moseneke ingesluit in paneel wat Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel sal aanhoor
# Die ondersoek na die dood van Cradock-vier heropen
# En, krieket: ‘n Verligte Warner is herenig met sy vermiste baggy green-pette
# Suid-Afrika het die voormalige adjunk-hoofregter, Dikgang Moseneke, benoem as sy verteenwoordigende regter in die Internasionale Geregshof. Dit kom in die aanloop tot die verhoor teen Israel wat vir Donderdag en volgende Vrydag in die Vredespaleis in Den Haag geskeduleer is. Die senior regsverteenwoordiger Adila Hassim sal ‘n span Suid-Afrikaanse advokate lei wat ‘n mondelinge betoog van 15-minute vir die Presidensie sal lewer. Ander senior regsverteenwoordigers sluit in John Dugard, Max du Plessis en Tembeka Ngcukaitobi. Die Britse senior advokaat en akademikus, Malcolm Shaw, sal Israel se saak stel.
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola het goedkeuring gegee vir die heropening van die ondersoek na die dood van die Cradock-vier, in reaksie op ‘n aanbeveling deur die Nasionale Vervolgingsgesag. Die ondersoek na die dood van die anti-apartheid aktiviste Matthew Goniwe, Sparrow Mkonto, Fort Calata en Sicelo Mhlauli gaan heropen word weens teenstrydighede in vorige ondersoeke. Nuwe bewyse, wat amnestie-aansoeke deur veiligheidspolisiebeamptes insluit, sal nou in ag geneem word. Die stap is gemik op afsluiting vir die families en die herstel van vertroue in die regstelsel.
# Die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, nooi die publiek om teen die 23ste van volgende maand voorleggings in te dien oor die konsep Geïntegreerde Hulpbronplan, soos in die Staatskoerant gepubliseer. Openbare kommentaar oor aannames, invoer-beperkings en scenario’s word ingewag om rigting te gee aan die finale beleidsaangepaste plan om die toekomstige energiemengsel van die land te ontwikkel. Die departement se woordvoerder, Ernest Mulibana, sê die konsep gee aandag aan beperkings op die korttermyn-vermoë tot 2030 en voorsien ‘n sterk netto-nul elektrisiteitsektor teen 2050:
# Krieket: Die aanvangskolwer van Australië, David Warner, is verheug dat sy vermiste toetspette aan hom terugbesorg is. Hy het die goeie nuus gekry terwyl hy in sy laaste toets teen Pakistan in Sydney gespeel het. Die pette het vroeër die week uit sy bagasie verdwyn tydens ‘n vlug van Melbourne na Sydney. Warner het op sosiale media daaroor gepleit, wat gelei het tot die opspoor van die sak met die pette en ander besittings in die span se hotel. Die sogenaamde baggy greens is gesog onder Australiese spelers, wat dieselfde pette dwarsdeur hulle loopbane dra.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-51-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-41-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-44-sent per vat.
# Ten slotte: Die legendariese dramaturg Mbongeni Ngema is vandag tydens sy begrafnisdiens in Durban, KwaZulu-Natal, vereer. Die wyle musiek-ikoon se broer, Nhlanhla Ngema, het dankbaarheid uitgespreek vir die voorreg van Mbongeni se teenwoordigheid in die lewens van familie, vriende en kollegas. Hy het beklemtoon dat Mbongeni se nalatenskap sal voortleef in die melodië van sy liedjies en die stories wat hy met die wêreld gedeel het. Nhlanhla het Suid-Afrikaners gevra om die oomblikke en lesse van sy broer te vier, om te verseker sy nagedagtenis leef voort:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….