Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Geslag-aktivis sê Oscar Pistorius se vrylating sal pynlike wonde vir slagoffers oopkrap
# Meer as 4-duisend mense is toegang geweier by Suid-Afrikaanse grensposte
# En, tennis: Nog ‘n oorwinning vir Nadal in Brisbane
# Die geslag-aktivis Anele Mda het kommer uitgespreek dat die vrylating van Oscar Pistorius op parool ou wonde sal oopkrap vir die slagoffers wat geraak is deur die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp. Pistorius sal môre vrygelaat word, ‘n paar weke voor die elfde herdenking van Steenkamp se dood. Mda het aan eNCA gesê geregtigheid het nie noodwending in hierdie spesifieke moordsaak geseëvier nie:
# Die Grensbestuursowerheid het meer as vier-duisend mense verhinder om Suid-Afrika binne te kom met hulle terugkeer van feestydvieringe. Die onder-assistentkommissaris, Stephen van Neel, sê die mense is toegang geweier omdat hulle nie oor die behoorlike dokumentasie beskik het nie. Van Neel sê sekerheidsagentskappe is ontplooi om kwesbaarhede langs die grenslyn teen te werk om onwettige immigrasie hok te slaan. Hy sê toetse word ook uitgevoer aangesien baie mense terugkeer van lande waar cholera aanwesig is, insluitende Zimbabwe:
# Frankryk het tydelik sy ambassade in Niger gesluit, maar beplan om geldelike steun voort te sit vir nie-regeringsorganisasies in Wes-Afrika. Die besluit volg ‘n week na die onttrekking van die laaste een-duisend-500 Franse soldate, na die eis deur Niger se militêre regering vir die verwydering van Frankryk se soldate en politieke teenwoordigheid. Frankryk sê konsulêre sake sal hanteer word deur sy ander ambassades in die streek.
# Tennis: Rafael Nadal se terugkeer na beroepstennis na amper ‘n jaar, bly op koers, met nog ‘n oorwinning in skoon stelle in die Brisbane Internasionale Toernooi in Australië. Die 22-malige Grand Slam-kampioen het in die ronde van 16 klaargespeel met die plaaslike speler Jason Kubler. Die Spanjaard het vroeër die week Dominic Thiem van Oostenryk geklop in sy eerste enkelspel-wedstryd sedert hy in verlede jaar se Australiese Ope sy heup beseer het nadat hy die toernooi in 2022 gewen het. Nadal kom te staan teen nog ‘n Australiër, Jordan Thompson, in die kwarteindstryd in Brisbane.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-308-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-42-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-74-sent per vat.
# En laastens: Die hond Lucy word as ‘n heldin geprys in ‘n dorp in Arlington in Amerika nadat sy haar eienaars wakker gemaak het om hulle te waarsku oor ‘n brand oorkant die straat. Die gemengde-ras hond se buitengewone manier van blaf het veroorsaak dat Douglos O’Connor uit die bed gespring het. Dis toe hy gesien het die bure se werkswinkel is aan die brand. Hy het die owerhede ontbied, wat die vlamme kon blus voordat dit na die huis versprei het waar die eienaars nog vas aan die slaap was. Die brandbestryders het later teruggekeer om Lucy ‘n welverdiende kopkrap te gee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….