Nuus 11:00
BULLETIN 2 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is bekommerd oor die onmiddellike herinstelling van beurtkrag
# ‘n Politieke ontleder meen die ANC sal waarskynlik aan bewind bly
# En, die Shelly Point Hotel en Spa in St Helenabaai is aan die brand
# Die DA sê vandag se onmiddellike herinstelling van voortslepende beurtkrag is ‘n voorteken dat die kragkrisis sakeondernemings, werkers en verbruikers in die komende jaar selfs erger as voorheen kan tref. Die party sê, dekades van ANC-korrupsie en -wanbestuur is die oorsaak dat die Suid-Afrikaanse kragnetwerk ineenstort. Samantha Graham-Maré van die DA sê die ANC is die rede vir elke krisis wat Suid-Afrikaners in die gesig staar: ván beurtkrag tot werkloosheid, lewenskoste en die skokkende geweldsmisdaad-koers:
# Hoewel Suid-Afrika se sewende algemene verkiesing vir die ANC die onsekerste een nóg is, sal hy heel waarskynlik aan bewind bly. Die politieke ontleder, Daniel Silke, sê selfs in die ergste scenario’s lê die steun van die ANC op ongeveer 45-persent. Silke meen die groot kwessie is duidelik beurtkrag, en as die energiekrisis voortsleep, sal dit die grootste struikelblok wees wat die ANC van die 50-persent-kerf af kan weghou. Volgens die jongste peiling deur die marknavorsingsorganisasie, Ipsos, sal 43-persent van geregistreerde kiesers waarskynlik die ANC ondersteun.
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het sy medelye uitgespreek ná die dood van die bekroonde fotograaf en anti-apartheidsaktivis, Peter Magubane. Hy is gister in die ouderdom van 91 oorlede. Magubane, wat erken word as een van Suid-Afrika se beste fotojoernaliste, het die mees geskiedkundige oomblikke in die bevrydingstryd teen apartheid in beeld verewig. Die ministerie se woordvoerder, Litha Mpondwana sê dit sluit die Sharpeville-slagting in 1960, die Rivonia-verhoor in 1964 en die Soweto-opstand in 1976 in:
# Die Weskus se mediese reddingsdiens is tans op die toneel waar die Shelley Point Hotel en Spa in St Helenabaai aan die brand is. Die brand het blykbaar rondom seweuur vanoggend in een van die restaurante ontstaan en vinnig deur die grasdakgebou versprei. Die brand woed buite beheer en het ʼn groot deel van die gebou vernietig. Saldanhabaai se brandbestryders werk onverpoosd om die vlamme te blus wat deur ʼn sterk wind aangedryf word. Inwoners is aangeraai om die gebied te vermy en die pad oop te hou vir reddingsvoertuie.
# Sokker: Mohamed Salah het twee doele aangeteken in Liverpool se oorwinning teen Newcastle United, waarin sy span hulle teenstanders met vier-twee geklop het. Liverpool het nou ‘n voorsprong van drie punte bo-aan die Engelse Premierliga, voor Aston Villa, wat tweede is. Die verdedigende kampioen, Manchester City, lê nog twee punte terug, saam met Arsenal. Salah se eerste doel in die wedstryd, was sy 150ste Premierliga-doel vir die Reds en die bestuurder, Jurgen Klopp, het sy vertoning geprys:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-355-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-75-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….