Nuus 12:00
BULLETIN 29 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se vrag- en logistiekmaatskappye berei voor vir teen-migrante-betogings
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens versterk sy hulpbronne voor die belastingseisoen
# En sokker: Hugo Broos is nie gereed om sy uittrede te bevestig ná die einde van Bafana Bafana se Wêreldbekerveldtog nie
# Suid-Afrikaanse vragoperateurs vertraag aflewerings, beplan alternatiewe roetes en oorweeg bykomende sekerheidsmaatreëls voor môre se beplande betogings teen migrante. Hulle wil werkers en vrag beskerm teen moontlike ontwrigtings langs sommige van die besigste vervoerroetes. Die uitvoerende hoof van die Padvragvereniging, Gavin Kelly, het aan Moneyweb gesê hulle het hul lede gevra om hulle werknemers in ag te neem en dalk hulle werksaamhede uit te stel. Hy voeg by as kliënte bereid is om vroeër aflewerings te aanvaar, is dit waarskynlik die beste moontlikheid.
# Die ANC ontken ten sterkste berigte van faksiegevegte in die Nasionale Werkkomitee oor hul benadering tot president Cyril Ramaphosa se aansoek om ‘n interdik te kry teen die Parlement se ampsklagkomitee. Sunday Times berig Ramaphosa het die party persoonlik opdrag gegee om te onttrek aan pogings om by sy hofsaak in te meng. Die ANC het verlede week amptelik aan die saak onttrek. Hy sê hy het volgens ‘n regsmening opgetree, en die party se besluite word gesamentlik geneem en nie deur individue voorgeskryf nie.
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, het ontken dat hy sy voorganger, John Steenhuisen, verraai het en sê sy besluite is in die beste belang van die party en die regering van nasionale eenheid. Hy het Ramaphosa versoek om die DA se kabinetslede te skommel en Steenhuisen van minister van Landbou na adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging te verskuif. Steenhuisen het aan News24 gesê die party se binnekring het sy ondergang beplan. Hill-Lewis het aan Sunday Times gesê persoonlike verhoudings bemoeilik sake, maar hy is getrou aan kiesers.
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het sy hulpbronne versterk voor die komende belasting-indieningseisoen, om nakoming en belastingbetaler-ondersteuning te verbeter. Die diens het sy digitale dienste uitgebrei, insluitend die bekendstelling van ‘n nuwe WhatsApp-kanaal, wat belastingbetalers toelaat om toegang tot evaluerings en ander dienste te vergemaklik. Die verbeterde digitale platforms het ten doel om wagtye te verkort, dienslewering te verbeter en doeltreffende belasting-opgawes te bevorder.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê hy gaan nog besin oor sy toekoms. Hy het vroeër gesê hy kan dalk vertrek wanneer Suid-Afrika se Wêreldbeker-reis tot ‘n einde kom. Gister se nederlaag teen Kanada het ‘n einde gebring aan ‘n geskiedkudige veldtog waarin Bafana die eerste keer die uitklopfase van die toernooi gehaal het. Broos sê wat hy ookal besluit, gaan nie maklik wees nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-718-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-66-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….