Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Januarie 2024:
(Talle publikasies hervat hul daaglikse uitgawes eers môre.)
GAUTENG:
# Beeld:
Berig volgens kenners is die aanskakeling van die Kusile-kragsentrale se vyfde eenheid geen prestasie nie. Intussen skryf die koerant beurtkrag is van vanoggend vyfuur weer ingestel op fase 2.
Dan word berig die Departement van Gesondheid het sy kommer uitgespreek oor die talle tieners wat geboorte geskenk het aan nuwejaarsbabas. Die jongste ma is 14-jaar oud.
En laastens is daar nuus oor die opspraakwekkende moord op Ilonka Craucamp en Shawn Pretorius van Mbombela. ’n Privaat speurder wat nou die saak ondersoek, beweer dit was ’n gewone rooftog wat skeefgeloop het.
# En The Citizen:
Skryf president Cyril Ramaphosa se Nuwejaarsboodskap was volgens kenners verwyderd van die werklikheid met geen verwysing na hoe die regering korrupsie gaan hokslaan nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens oor die vliegtuigongeluk in Carletonville waarin drie mense dood is toe twee vliegtuie in die lug gebots het. Die oorledenes is Casper en Estelle Botha en Hennie Viviers van Ventersdorp.
En tweedens skryf die koerant oor die skielike dood van ’n gewilde leerkrag van die Hoërskool Jim Fouché, Karlien van der Merwe.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die dood van die 13-jarige Zane Fry van Van Wyksvlei in Wellington wat in die plaaslike munisipale swembad verdrink het.
Dan is daar nuus oor die uitermatige warm weer wat vir die Wes- en Oos-Kaap voorspel word vir die res van die week.
En laastens skryf die koerant oor ’n brand wat naby die Strandloper-restaurant in Langebaan uitgebreek het. Dit is geblus voordat enige skade aangerig is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig eerstens oor die nalatenskap van Quinton-Steele Botes se atletiek-oefenkamp wat hy in 1993 begin het. Die kamp word môre weer hervat.
En tweedens is daar nuus oor ’n straatkunstenaar van Swakopmund, Judith Sanib wat reeds vir 13 jaar houtwerk en kerfwerk uit verskillende materiale doen en verkoop.