Nuus 06:00
BULLETIN 29 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Firoz Cachalia doen ‘n beroep op wetstoepassers om ferm en billik op te tree tydens die teen-immigrasie-betogings
# Gautengse Onderwys ontbloot gevalle van korrupsie, finansiële wanbestuur en verkrygingsonreëlmatighede
# En sokker: Bafana Bafana word deur Kanada uitgeskakel by die Wêreldbeker
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê beamptes sal nie môre ontplooi word om wettige betogings te stop nie, maar om te verseker dat dit veilig en ordelik plaasvind. Dit kom terwyl organisasies van plan is om teen-immigrasie-protesoptogte regoor die land te hou. Cachalia het gister in Durban SAPD-lede toegespreek en beklemtoon dat die regte van betogers en dié van ander lede van die publiek nie in botsing is nie, maar aanvullende grondwetlike verpligtinge is wat gebalanseer moet word:
Intussen het die Nigeriese ambassadeur in Suid-Afrika, Alexander Ajayi, die land versoek om nie migrante-gemeenskappe die skuld vir misdaad te gee nie. Tydens ‘n bespreking oor Migrasie en Maatskaplike Samehorigheid in die Parlement het Ajayi gesê misdadigers moet individueel vervolg moet word, nie op grond van hul nasionaliteit nie. Hy het gewaarsku om Nigeriërs verantwoordelik te hou vir misdaad, sal net diskriminasie, vyandigheid en xenofobiese geweld aanvuur. Ajayi sê migrasiedebatte moet maatskaplike samehorigheid en die erkenning van migrante se positiewe bydraes tot die ekonomie bevorder:
# Die MK-party-parlementslid, Vusi Shongwe, sal die week voor die Madlanga-kommissie verskyn. Shongwe, wat die Parlement se Ad Hoc-komitee van die uitnodiging ingelig het, sal na verwagting getuig oor ‘n vergadering in Durban wat hy bygewoon het op versoek van die gearresteerde Misdaadintelligensiehoof, Feroz Khan. Sy verskyning vorm deel van die kommissie se ondersoek na ernstige bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, rakende beweerde misdaad, politieke inmenging en korrupsie.
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê sy departement is daartoe verbind om korrupsie in die provinsiale onderwys-ekostelsel uit te roei. ‘n Omvattende interne evaluering in opdrag van die departement, het tussen 2023 en Junie 2026 41 ernstige gevalle van korrupsie, finansiële wanbestuur, wanadministrasie en verkrygingsonreëlmatighede aan die lig gebring. Maile sê skoolhoofde, lede van skoolbeheerliggame, finansiële beamptes, beurshouers, administratiewe personeel, opvoeders, algemene werkers en diensverskaffers word hierby betrek:
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, sê enige inmenging in die bestuur van die Straat van Hormoes sal die spanning verhoog. Dit volg nadat die VSA nuwe aanvalle op Teheran uitgevoer het na ‘n hommeltuigaanval Saterdag op ‘n vaartuig onder die Panama-vlag in die Straat. In vergelding het Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wag missiele en hommeltuie op Amerikaanse infrastruktuur in Koeweit en Bahrein afgevuur. Araghchi sê ingevolge die ooreenkoms wat Amerika onderteken het, sal die Straat binne 30 dae na sy voor-oorlogse vermoë terugkeer onder Iran se uitsluitlike bestuur.
#Sokker: Bafana Bafana is uitgeskakel in die Wêreldbeker-toernooi na ‘n 1-0 nederlaag teen mede-gasheer Kanada in die rondte van 32 in Los Angeles. Die Speler van die Wedstryd, Stephen Eustaquio, se doel in die 92ste minuut was die deurslag in ‘n kragmeting wat Suid-Afrika in posisie oorheers en goed verdedig het. Dit is die eerste uitklopronde-oorwinning in die Kanadese geskiedenis. Jesse Marsch se span sal teen Nederland of Marokko in die laaste 16 speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-143-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-68-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….