Nuus 08:00
BULLETIN 5 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie Volvo-motors en sewe Cape Herb and Spices-produkte word herroep
# Die DA sê die totstandkoming van die Kleinsake-ombud is ‘n betekenisvolle stap
# En, Trump sê Amerika sal Gaza oorneem en stel voor die Palestyne trek permanent weg
# Die Nasionale Verbruikerskommissie sê die voertuigvervaardiger, Volvo Car South Africa, herroep drie van sy modelle. Die Januarie 2023 XC90-model het moontlik ‘n programmatuur-probleem terwyl die Oktober 2024 XC90-model ʼn stang tussen die rempedaal en remversterker het wat nie reg werk nie. Die XC40 MY2024 het ʼn probleem met sy flikkerligstelsel. Die kommissie se woordvoerder, Phetho Ntaba, voeg by sewe produkte van Cape Herb and Spices is van die rakke gehaal nadat ʼn meule tydens vervaardiging gebreek en ʼn harde plastiekvoorwerp in die mengsel laat beland het:
# Die DA verwelkom die stigting van die Kleinsakeonderneming-ombuddiens en sê dit is ‘n belangrike stap na ‘n regverdiger en meer ondersteunende omgewing vir kleinsake. Die ombud se taak is om op manier wat volgens prosedure regverdig is, klagtes te beoordeel en uit die weg ruim kragtens die Wet op Nasionale Kleinondernemings. Die DA sê die ombud sal ‘n groot rol speel in die aanspreek van sleuteluitdagings vir kleinsake, soos laat-betalings, onregverdige kontrakte en toegang tot finansiering.
# Die Stad Tshwane se raad het die begrotingsverslag van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur aanvaar in ooreenstemming met die Wet op Plaaslike Regering Munisipale Finansiële Bestuur. Die verslae hou die raad, die Nasionale Tesourie, Provinsiale Tesourie en die publiek ingelig oor die metro se finansiële situasie. Die burgemeester se woordvoerder, Zintle Mahlati, sê die verslae is weens vertragings in die interne komiteestelsel nie verlede Donderdag by die geskeduleerde raadsvergadering voorgelê nie:
# President Donald Trump sê Amerika moet die Gaza-strook oorneem en stabiliteit na die hele Midde-Oosterse streek bring. Hy het Donderdag by die Withuis met die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, vergader. Trump stel ook voor die hele Palestynse bevolking van meer as twee-miljoen in die Gaza-strook moet in lande soos Jordanië en Egipte hervestig word. Hy beskryf Gaza as ʼn slopingsterrein:
# Krieket: MI Cape Town het Paarl Royals met 39 lopies verslaan in die eerste kwalifiseerwedstryd by St George’s Park in Gqeberha, en die eerste keer ooit die SA20-eindronde gehaal. Ryan Rickelton en Rassie van der Dussen se openingspoging van 87 lopies het MI Cape Town gehelp om 199 vir vier aan te teken. In antwoord daarop was die Royals op 160 almal uit. Hulle het nog ʼn kans om die eindronde te haal wanneer hulle Donderdag in die tweede kwalifisereerwedstryd in Centurion óf teen Sunrisers Eastern Cape óf Joburg Super Kings kragte meet.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-34-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-853-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 75-dollar-64-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….