Nuus 06:00
BULLETIN 21 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Trump sê ’n goue era het vir Amerika aangebreek
# Die ANC is bekommerd oor die moontlike likwidasie van Ithala-bank
# En ‘n vermeende stroper is in die Krugerwildtuin deur ’n seekoei doodgemaak
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê die goue era van Amerika het begin. Hy sê hy keer terug na die presidentskap vol vertroue en optimisties dat die land aan die begin van ‘n opwindende nuwe era van nasionale sukses is. Trump is Maandag in Washington as die 47ste Amerikaanse president ingesweer. Hy het in sy inhuldigingstoespraak gesê hy hoop die afgelope presidensiële verkiesing word onthou as die grootste verkiesing met die meeste gevolge in die geskiedenis van Amerika:
Trump het ook sy voorganger Joe Biden gekritiseer omdat hy nie grensveiligheid en ander krisisse tydens sy termyn, bestuur het nie. Trump is ingesweer ná die moontlik merkwaardigste politieke terugkeer in die Amerikaanse geskiedenis. Hy het gesê die Biden-administrasie het onbeperkte finansiering gegee aan die verdediging van buitelandse grense, maar geweier om Amerikaanse grense te verdedig:
# Die ANC is besorg oor die moontlike likwidasie van Ithala-bank en waarsku dit kan meer as 400 werksgeleenthede bedreig en finansiële dienste vir landelike gemeenskappe, klein ondernemings en kerke in KwaZulu-Natal ontwrig. Die party het die naweek tydens die vergadering van die nasionale uitvoerende komitee in Boksburg sy verbintenis tot finansiële insluiting en ekonomiese geregtigheid bevestig. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het die regering versoek om onverwyld stappe te doen om die bank en sy werknemers te beskerm:
# Die drukgroep Sakeliga het ‘n aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien teen die Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns en staatsdepartemente oor die vereiste dat eiendomsagente swart ekonomiese bemagtiging-sertifikate moet hê vir getrouheidsfonds-sertifikate. Sakeliga meen SEB-voldoening is nie ter sake vir die etiese hantering van kliënte se geld nie, en beskryf die sertifikaat as ‘n politieke instrument. Die owerheid het in April gewaarsku oor gevare vir nie-voldoening. Sakeliga beskryf dit as ‘n beheertaktiek oor ekonomiese toegang.
# Die Nasionale Kruger-wildtuin berig die liggaam van ‘n vermeende stroper is op ‘n toeristepad in die Pretoriuskop-gedeelte aangetref. Aanvanklike berigte dui daarop dat drie persone Sondagaand die park onwettig binnegegaan het met die voorneme om te stroop, maar is deur ‘n seekoei aangeval. Een verdagte is noodlottig beseer en sy liggaam is later deur die ander agtergelaat. Die bestuur van die park sê in ‘n verklaring ‘n toeris het op die liggaam afgekom en die owerhede verwittig. Die verklaring waarsku teen onwettige binnekoms weens die gevare van wild en wetlike gevolge.
# Tennis: Die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport het bevestig hy gaan nie appelleer teen die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap se besluit in die verbode middel-saak teen die Poolse speler Iga Swiatek nie. Sy het verlede jaar ‘n skorsing van een maand uitgedien nadat sy positief getoets het vir ‘n verbode middel. Wada sê ‘n deeglike hersiening het bevind die speler het ‘n geloofwaardige verduideliking gehad wat die integriteitsagentskap aanvaar het. Wada het vroeër besluit om na die Hof vir Arbitrasie in Sport te appelleer in ‘n soortgelyke saak teen die mans-wêreld nommer een, Jannik Sinner van Italië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-52-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-708-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….