Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Donald Trump het in sy openingsrede onderneem om Amerika te red van wat hy beskryf het as jare van verraad en agteruitgang. Hy het streng optrede teen onwettige immigrasie vooropgestel en homself as ‘n nasionale verlosser uitverkies deur God uitgebeeld.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens ook oor Trump. Die blad skryf hy het in sy toespraak gesê Amerika se agteruitgang is verby en die land staan op die vooraand van ‘n nuwe era van vooruitgang.
Dan word berig ‘n 35-jarige man wat in die Midrand-landdroshof verskyn het in verband met die besit van miljoene afbeeldings van kinderpornografie gaan moontlik ook van geldwassery aangekla word.
En laastens skryf die blad die Soetdoring-reservaat buite Bloemfontein is steeds gesluit terwyl werk aan ‘n watersuiweringsaanleg, store en kantore voortduur.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Bespiegel oor die moontlikheid dat die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula moontlik die Gautengse premier Panyaza Lesufi se vlerke gaan knip.
En berig tweedens die ministerie van Vervoer het onthul meer as ‘n duisend-500 mense het op die land se paaie omgekom tydens die afgelope feestyd.
# Sowetan:
Berig die polisie het glo ‘n beweerde zama zama-leier op pad na die polisiestasie losgelaat. Van die mynwerkers wat uit die Stilfontein-myn gered is, sê James Neo Tshoaeli was genadeloos en het voedsel en medikasie ondergronds beheer.
# En The Citizen:
Skryf met die toename in kinderpornografiesake in Suid-Afrika, doen kenners ‘n beroep op die versterking van polisie-intelligensie en verbeterde samewerking met internasionale wetstoepassingsagentskappe.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met Trump se inhuldigingstoespraak.
En tweedens word berig die Britse burger Darren Sutton wat deur die lewensredder Channa van Coller by Wildernis uit die see gered is, het ‘n spesiale video gemaak om haar te bedank.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die stryd om die leierskap van die ANC in Nelson Mandelabaai is in volle swang met die voormalige streeksekretaris, Luyolo Nqakula wat alles in die stryd werp.
En tweedens skryf die koerant die Moore Dyke-sportkompleks moes reeds agt maande gelede voltooi word, maar daar is nou tweespalt oor die aanstelling van ‘n onafhanklike bourekenaar.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Hooggeregshof in Pietermaritzburg het koningin Ntokozo KaMayisela Zulu se dringende aansoek om koning Misuzulu kaZwelithini se troue met Nomzamo Myeni te stop, van die hand gewys.
En berig “TRUMP MANIA” het Amerika getref.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ondersoek ná die gewapende rooftog by die diamanthandelaar, Namdia sluit in om te bepaal of Max Endjala wat glo sy eie lewe op die toneel geneem het, moontlik die maatskappy se veiligheidshoof, Francis Eiseb, geskiet het.
Dan skryf die koerant ‘n gebrek aan gesondheidsgeriewe in die Guinas-kiesafdeling lei daartoe dat swanger vroue noodgedwonge tuis moet kraam.
En laastens word berig daar het nog niks gekom van die Rundu-dorpsraad se pogings om die waterkrisis op te los nie.