Nuus 06:00
BULLETIN 3 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Midde-Oosterse konflik bedreig brandstofpryse in November
# Nog ‘n voormalige EFF-LP sluit by die MK-party aan
# En rugby: Deon Fourie hoop om volgende maand terug te keer na die Stormers
# Brandstofpryse in Suid-Afrika het gister die grootste daling sedert Februarie 2022 bereik, maar spanning in die Midde-Ooste kan hierdie tendens omkeer. Brent-ruolie-pryse het met meer as ses-persent gestyg ná Iran se missielaanval op Israel, wat vrese oor ‘n ontwrigte olievoorraad veroorsaak het. Brent-ruolie kos nou meer as een duisend-200-rand per vat, en ontleders waarsku teen moontlike brandstofprysstygings in November indien spanning vererger, aangesien dit die globale oliemark en Suid-Afrikaanse motoriste sal raak.
Iran se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Amir Saeed Iravani, sê intussen sy land se missielaanvalle was noodsaaklik en ‘n gelykmatige reaksie op Israel se voortdurende aggressiewe terreurdade. Iran het Dinsdagaand ‘n hoëspoed-missielaanval op Israel uitgevoer. Dit was Teheran se grootste aanval ooit op sy streeksvyand. Iravani het aan die VN-Veiligheidsraad gesê Israel moet onmiddellik sy gewelddadige optrede teen Gaza en Libanon staak om verdere optrede te voorkom:
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling sê ActionSA se strafregtelike klagte teen minister Thembi Simelane, is gepas wanneer daar vermoede van onwettige optrede bestaan. Die party het strafregtelike klagte teen Simelane ingedien vir beweerde oortredings van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite en vervalsing. Dit hou verband met die minister se beweerde lening van 575-duisend-600-rand van Gundo Wealth Solutions, gekoppel aan onwettige beleggings in VBS Mutual Bank. Die departement sê ‘n ondersoek sal die saak tot ’n logiese gevolg bring.
# Die EFF se gewese parlementslid en menseregte-aktivis, Khanyisile Litchfield-Tshabalala, het amptelik by die MK-party aangesluit. Sy het haar besluit aangekondig tydens ‘n onderhoud met haar mede-aktivis, Ntsiki Mazwai, op ‘n Moya-aanlynuitsending. Die gewese ANC uMkhonto we Sizwe-operateur en eerste vroulike vise-admiraal van die Suid-Afrikaanse Vloot het kommer uitgespreek oor die Parlement se huidige rigting en die regering se beleide:
# Die DA het die Gautengse Onderwysdepartement gekritiseer vir sy jaarlikse huurbesteding van meer as 192-miljoen-rand ondanks beduidende begrotings-besnoeiings. DA-woordvoerder Michael Waters sê die LUR, Matome Chiloane, het bevestig dat die departement maandeliks 16-miljoen-rand bestee aan huurgeld. Hy sê dit gebeur terwyl die departement befondsing vir skoolvervoer en voedingskemas verminder om sowat drie-duisend-400 onderwysposte te red. Waters sê die DA beywer hom vir die gebruik van staatseiendomme om koste te verlaag.
# Rugby: Die Springbok-flank van die Stormers, Deon Fourie, hoop om aanstaande maand na ‘n langtermynbesering terug te keer. Die 38-jarige het nege maande gelede ʼn kniebesering opgedoen. Hy was ʼn belangrike deel van die Bokke se Wêreldbeker-veldtog verlede jaar in Frankryk toe hy as instaan-haker ingespan is. Fourie beplan om gereed te wees vir die Stormers se kragmeting teen die einde van aanstaande maand in die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Haaie maar sê hy moet eers seker maak hy is 100-persent fiks.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-666-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-660-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….