Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Openbare Beleggingskorporasie trek groot voordeel uit die regering van nasionale eenheid en die bates wat hy bestuur het in September vir die eerste keer die drie-duisend-miljardrand-merk oortref.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig daar is reeds verskeie strafregtelike klagtes by die Brooklyn-polisiestasie ingedien teen die geskorste hoof van Hoërskool Waterkloof, Chris Denysschen. Die sake hou verband met beweerde seksuele aanranding. Denysschen sê hy is nog nie ingelig oor enige van die sake nie.
Dan skryf die koerant oor die tagtigste verjaarsdag van die komponis en pianis, Johan van Rensburg.
En laastens word berig oor die 54-jarige Iain Gordon wat ernstig beseer is toe hy deur ‘n brand by Leeukloof noord-oos van Pretoria oorval is.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die EFF-leier Julius Malema sal in die hof moet gaan verduidelik oor sy opmerkings dat die voormalige minister Naledi Pandor geld van VBS ontvang het.
En berig die gospel-ster Solly Hoholo is oorlede.
# Sowetan:
Berig ‘n tienerseun is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis vir seksuele aanvalle op kinders so jonk as vyf. Die misdade het reeds op 12-jarige ouderdom begin.
# En The Citizen:
Skryf oor die hofuitspraak dat toestemming vir omgang nie meer as ‘n verweer deur verkragters aangevoer kan word nie. Sowetan het gister breedvoerig hieroor berig.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille sê die regering van nasionale eenheid sal nie sommer ontbind word nie, maar die moontlikheid is nie uitgesluit nie. Die Bela-wet en die NGV is die vernaamste struikelblokke.
En tweedens skryf die koerant die oud-Bok Naka Drotské wat van aanranding aangekla word, het self ook ‘n klag ingedien. Hy sê hy het uit noodweer opgetree.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Volksblad.
En die res van die voorblad word deur ‘n advertensie beslaan.
# En Cape Times:
Skryf die DA en Cosatu stamp koppe oor die verhoging van die minimumloon.
En berig die hummus by Checkers-deli’s is onttrek weens ‘n gevaar van listeriose.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-sakekamer het ‘n brief met sy beplande optrede teen die besluit oor die brandstofprys in Nelson Mandelabaai aan sy 700 lede gestuur.
En tweedens skryf die koerant studente van ‘n privaat koshuis in Gqeberha het die vensters stukkend geslaan en ander skade aangerig nadat een van die studente in ‘n onderonsie met die koshuis se bestuurder dood is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die burgemeester van eThekwini, Cyril Xaba het beroep op eenheid gedoen om die geboortedag van Mahatma Gandhi te herdenk.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig volgens die finale verslag oor die noodlottige helikopterongeluk naby Swakopmund in Julie verlede jaar, het die betrokke helikopter nie ’n lugwaardigheid-sertifikaat gehad nie.
Dan skryf die koerant verbruikersbesteding sal waarskynlik binnekort toeneem weens die terugbetaling van belasting wat hierdie maand aan baie werknemers uitbetaal sal word.
En laastens is daar nuus oor ’n graad 11-leerder van Windhoek Gimnasium se passie vir hekelwerk.